Local newsNewsNews

Goeie herinneringe en sielsmusiek

Dit was 'n aand om te onthou by Mighty Grow in die geselskap van Valiant Swart en kie.

VANDERBIJLPARK – Die weer het saamgespeel. Die wind het gaan lê. Dit was maklik om terug te sit, die week se geite te vergeet en saam met Valiant Swart die 1 000 myl blues te ervaar.

Ansie en Len Viviers het die vertoning geniet saam met Teressa en Kenny Hills.

Hy het begin met van sy blues nadat plaaslike kunstenaar, Lourens Nolte almal met die meesterklanke van die saksofoon bekoor het.

‘n Aand van bekoring inderdaad. ‘n Informele musiek kuiersessie. By Mighty Grow Kwekery is die tafels wyd gepak.

Madelein Breedt en Carina Badenhorst kuier bietjie by die vuur voordat Valiant Swart begin sing.

Van agter het ‘n groot vuur die naglug verhelder. Om die tafels is daar geëet, gekuier en musiek geluister. Want Valiant mag maar sing en hy kan stories vertel.

So op sy eie manier trek hy sy gehoor in, voel dit die man praat nou net met jou en jy is seker hy en jy ken dieselfde mense.

Plaaslike kunstenaar, Lourens Nolte saam met Illimar Neitz en Valiant Swart tydens hul optrede Vrydagaand by Mighty Grow.

Valiant en sy kitaarspeler, klankman aka prokureur en besprekingsman, Illimar Neitz is ‘n gedugte span met kitare in die hand.

Dit is musiek wat jou soms laat dink, soms laat lag, ‘n traan laat sluk, herinneringe laat herleef en meeste van die tyd jou brein geheel mis en direk jou siel vastrap.

Dit was nie sommer so ‘n vinnige sing van lysie af en kry klaar vertoning nie. Dit was ‘n laataand kuieraand.

‘n Anderster aand. ‘n Aand om te onthou. Tot volgende jaar, wanneer Vanderbijlpark en Valiant weer ontmoet.

Back to top button