Local newsNews

Boervrou ‘n invalide na skaapram se stamp

Sonette het voortdurend pyn en kan net met groot moeite loop.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Boervrou wat voorheen vir enige taak kans gesien het, is sedert 2021 feitlik ‘n invalide nadat sy onder ‘n befoeterde skaapram deurgeloop het.
Mev. Sonette Krugel (48) was op 21 Junie 2021 met take buite haar huis op ‘n Lindequesdrift-hoewe besig toe die skaapram, genaamd Japie, onverwags van agter op haar afgestorm en haar baie hard met sy kop teen die agterbeen gestamp het. Die onderste gedeelte van haar linkerknie is in die proses gebreek en haar ligamente ook ernstig beseer.

Sy was aanvanklik in die hospitaal in Parys maar is die volgende dag na Potchefstroom se staatshospitaal geneem, waar sy deur ‘n ortopediese spesialis behandel is. Haar been is van die enkel tot bo die knie in gips geplaas. Sy is ‘n week later geopereer om die breuke in haar knie met plate en skroewe te herbelyn.

Haar liggaam het egter die plate en skroewe begin verwerp en na ‘n jaar van ondraaglike pyn is dit in 2022 tydens ‘n tweede operasie verwyder. Erge artritis het in die aangetaste knie ingetree en die staatshospitaal het haar op ‘n waglys vir ‘n knievervanging geplaas. Weens onvoldoende staatsbefondsing kon daar nog nie met die geskeduleerde operasies voortgegaan word nie, dus moet Sonette nou onbepaald wag.

Sy het voortdurend pyn en kan net met groot moeite loop. Sy kan min gewig op die been plaas en loop mank, wat nou ook haar linkerheup begin aantas. Boonop raak die knie maklik ontwrig, wat tot ‘n val en verdere beserings kan lei.
X-strale toon dat haar knieskyf se kraakbeen direk op been skuur. Daar is geen beskermende weefsel tussen-in nie, en ‘n stukkie been ontbreek ook weens die aanvanklike breuk.

Sonette het intussen ‘n Back-a-Buddy rekening oopgemaak in die hoop dat sy genoeg geld sal kan insamel vir ‘n knievervanging by ‘n privaathospitaal. Haar dogter, Chante, sê dit breek haar hart om haar ma heeltyd in trane en pyn te sien. Sonette ontvang tans net ‘n gestremdheidstoelaag van SASSA. “Ek kan nie wag om gesond te word sodat ek weer kan werk en ‘n inkomste kan verdien nie,” sê sy. Japie die skaapram het intussen nuwe eienaars gekry, ‘n paar hoewes van Sonette af.
* Mense wat haar geldelik wil ondersteun vir ‘n operasie by ‘n privaathospitaal, kan ‘n inbetaling maak aan S. Krugel, Capitec Spaar, Rekeningnommer: 1441672689, Verwysing: knie.

Lees nog inligting op haar Back a Buddy-verhaal: https://www.backabuddy.co.za/campaign/knee-replacement?fbclid=IwY2xjawFPfYFleHRuA2FlbQIxMAABHV6vgML-BpvBOTTH2dnUPGH2JP9OKibj2IF75giQ-hatVxlRLSn6Jv_rnA_aem_lv6t6qf1ezo8rDSGbMFHHQ

Mev. Sonette Krugel (48) van Lindequesdrift.
‘n Onduidelike foto van Japie, die skaapram, wat Sonette sleg beseer het. Hy is intussen vir nuwe eienaars gegee.
Sonette het reeds twee operasies aan haar beseerde been gehad en is nou op ‘n waglys vir ‘n knievervanging.
Sonette se liggaam het die skroewe en plate, wat op die x-strale gesien kan word, verwerp.

Back to top button