Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Die wyse uiltjie gaan dit nog ver bring

RUBRIEK - Sy het al 'n video van 'n outjie op die maan gesien, 'n Amerikaner, maar sy weet nie of is dit rêrig nie. Caylin (gr 3) is 'n wyse uiltjie. Lees meer...

RUBRIEK – Kuier ek Maandag by die Laerskool Emfulenipark. Die hoof het ses jongelinge vir my personeelkamer toe gebring om mee te gesels.

“Julle moet die een ding doen wat julle nooit in die klaskamer mag doen nie. Gesels met mekaar sodat julle nie hoor wat ek gesels in die hoek nie,” verklaar ek.

Ek gaan sit. Agter my bars ‘n kabaal los. Ek loer versigtig oor my skouer. Sien die seuns is op die punt om ‘n stoeigeveg te begin.

“Wow, ek het gesê gesels, niks van afbreek nie. Onthou, hier mag julle nie rugby of sokker speel nie, ook nie stoei nie. Julle mag gesels, maar moet stil sit.”

“Mag ons hokkie speel Juffrou?”

“Tannie wat van netbal?”

“Ons kan dit nie doen nie, hier is nie eens balle nie. Behalwe hierdie,” en die jongman wys na die mooie klip (ek dink) balle op die tafeltjie.

Ek sien al hoe daal die hoof op my neer. “Nee, net gesels, anders sit ek julle nie in die koerant nie.”

Een van die graad 3’s het raad. “Juffrou vat die kleintjies eerste. Dan wag ons grotes tot laaste.”

So gesê, so gedaan. Uiteindelik is net die jonge juffie oor. “Dink jy daar was al mense op die maan,” vra ek.

Ek’s tussenin” sê sy en verduidelik dat sy wel ‘n video gesien het van ‘n outjie wat op die maan loop, maar sy glo nie alles wat sy op YouTube sien nie.

Sy reken geen mens sal op die maan kan bly nie. “Jy sal heeldag ‘n helmet moet dra en freezedried kos eet en dan float alles in die lug.

My ouma sê dit sal ‘n jaar vat boontoe en  die ‘n jaar ondertoe. Dis baie lank.”

Ek neem plegtig notas en vra of ek ‘n foto kan neem. Sy stem in. Ek neem. Sy kyk daarna.

“Nee, my hare moet liewer agter my ore wees.”

“Dis reg. Sit weer,” seg ek en wag geduldig dat sy haar hare agter haar ore indruk.

Die keer is sy tevrede. ‘n Wyse enetjie hierdie en beslis nie een wat alles sommer net blindelings glo nie.

Back to top button