News

Midvaal nagtegaal stel nuwe liefdesballade vry

Yolandie het nog 'n enskelsnit vrygestel.

MEYERTON – Die ligte klassieke sangeres Yolandie se nuwe enkelsnit, Alles oor Jou is ‘n liefdesballade wat diep uit haar hart kom.

Yolandie meen dié enkelsnit is haar gunsteling lied tot dusver, omrede sy dit wat in haar hart is kon neerpen en dit self gekomponeer het.

Die tema van die lied is weereens liefde. Sy meen dat die lied so mooi vasvang hoe elke vrou die prinses wil wees in haar eie liefdesverhaal en opsoek is na haar prins.

Yolandie verklaar: “Dit maak nie saak watter vorm jou voorkeur van ‘n lewensmaat is nie, die beginsels bly dieselfde, dis hoe ons geskep is – om lief te hê.”

Yolandie glo dat hierdie lied, deur baie geniet sal word en dat baie daarmee sal kan vereenselwig.

Yolandie sê: “Ek sal graag wil hê elke persoon wat verlief is, lief is of net omgee wil wys, moet hulself in die lied kan ervaar en saam huil, saam lag, saam sing en deel met daardie spesiale persoon. Want liefde beteken niks as ons dit nie kan ervaar, uitdeel of leef nie.”

Yolandie beskryf Alles oor Jou as ‘n tipiese liefdeslied.

Dit is ‘n lied wat ‘n mens diep laat nadink met ‘n eerlike vertolking en ‘n eenvoudige wysie.

Die omslag van Yolandie se nuwe enkelsnit, Alles oor Jou.

Haar lae ligte klassieke stem komplimenteer die mooi melodie en boodskap en los ‘n blywende indruk.

Sean Butler, die bekende vervaardiger wat met kunstenaars soos Nianell, Romanz, Elizma Theron, Kurt Darren en menigte ander bekendes gewerk het verklaar: “Dit is altyd ‘n voorreg om betrokke te wees by Yolandie opnames en weereens met haar nuutste enkelsnit. Die opname proses van die lied was groot pret saam Yolandie, ons ken mekaar al oor die 20 jaar en is baie gemaklik met mekaar.”

Yolandie het ongeveer vyf ure opgeneem daaraan. Sy en Sean werk goed saam en deel ‘n soortgelyke kreatiewe benadering tot musiek.

Yolandie is gebore in die Jakaranda Stad – Pretoria.

Sy het haar voorliefde vir musiek ondek deur haar pa se kitaarlesse wat sy op nege-jarige ouderdom ontvang het.

Van daar het sy aanhou sing en het sy van kindsbeen af elke verhoog geleentheid aangegryp.

Yolandie se kortspeel album, Shades of Time, is verlede jaar uitgereik en het treffers bevat soos, Sonneblom uit Bethlehem (met Derick Scholtz), Listen to the ocean (met Kobus Prinsloo), Tell Him (met Karen Olivier), Time to say Goodbye (met Gert Hartzenberg) en ‘n spesiale bonus snit, Vivo Per Lei (met Kevin Leo).

Na die sukses van Shades of Time, het sy besluit om ‘n nuwe enkelsnit vry te stel getiteld, Morné se Lied.

Hierdie lied is spesiaal opgedra aan haar kitaarspeler met dieselfde naam, en sy musikale vingers is duidelik hoorbaar op die snit.

Dié lied het sy in haar skatkis ontdek met ‘n baie interressante storie waar alles soos ‘n legkaart inmekaar gepas het, na ‘n volle 20 jaar.

Die grootste les wat die musiek bedryf Yolandie geleer het, is: “Bly altyd nederig en onthou waar jy vandaan kom. Een oomblik is jy bo, die volgende oomblik dalk onder” en dan bowenal “be true to yourself.”

Sy het menigte planne vir haar toekoms in die musiek bedryf.

Sy repeteer tans weekliks aan ‘n Keurspel saam met ‘n klompie kunstenaars en ‘n lewendige orkes.

Sy tree ook hierdie jaar op by Aardklop en sien opreg uit daarna. Sy is ook tans besig om werk te maak aan ‘n musiek video vir Alles oor Jou en sal die einde van die jaar ‘n kerslied of twee opneem.

Yolandie se wonderlike stem en musiek beloof om baie te bekoor en die duet album, Shades of Time sal mens weer herrinner aan die goeie musiek en stemme van ouds.

Morné se Lied laat mens nostalgies voel oor die lewe met al sy uitdagings.

Hierdie enkelsnit, Alles oor Jou beloof om net so suksesvol te wees soos haar voriges en behoort baie hartsnare te roer. Yolandie se hart en siel is so mooi vasgevang in die vertolking van hierdie lied.

Yolandie.

Back to top button