News

Wakker geskrik met pistool teen die kop

Bekende orrelis, koorafrigter en vermaaklikheidskunstenaar het die dood in die oë gestaar.

VANDERBIJLPARK – “Ek het wakker geword met ‘n pistool teen my kop. Die man se gesig was teen myne. Hy het net sy vinger op sy lippe gesit en beduie ek moet stil bly,” onthou Franz Geldenhuys die gebeure van 14 Augustus.

Franz het vroegdag opgestaan, die huis se ligte aangesit, koffie gemaak en op die bank in die oopplan sitkamer aan die slaap geraak.

Minute later het hy wakker geskrik met die geweer in sy gesig en die wete dat daar twee inbrekers saam met hom was.

“Hy het my drie keer probeer skiet. Die sneller getrek, maar ek het net drie klik geluide gehoor,” vertel Franz.

Franz se eggenoot, Edward Brits, sê hy en die vier Yorkies het geslaap. Hy het wakker geword met Franz wat skreeu en vir sy lewe smeek.

Edward, wat permanent op suurstof is, het krag van bo gekry en is gang af. “Edward het skielik in die gang afgekom en die aanvaller het dadelik die pistool op hom gerig.

“Weer was daar net ‘n klik geluid. Die volgende oomblik het Edward vorentoe gestorm en albei inbrekers met bomenslike krag by die deur uitgeboender en die deur gesluit,” vertel Franz.

In die proses het die een man Franz se selfoon gegryp wat op die tafeltjie gelê het. Dis al wat gesteel is, maar in die motorhuis was die lig aan en die motor se deur oop.

Franz se skootrekenaar en beursie was reeds op ‘n tafeltjie gereed om gevat te word. Die egpaar woon in die middel van ‘n sekuriteitskompleks en daar is die oggend by geen ander huise ingebreek nie.

Albei ly nog aan skok en Franz sê selfs die geluid wat sy motor se rigtingwyser maak herinner hom aan die geluid van die pistool wat nie afgegaan het nie.

Die insident het ook ou wonde weer oopgekrap van die tyd, etlike jare gelede, toe hy ontvoer en vir 72 uur aangerand is.

Ten spyte van die trauma, gaan Franz volstoom voort met die afrigting van sy sewe kore, en die beoordeling van die Kunstefees.

Hy is ook besig met die laaste voorbereidings vir NG Driehoek se Musiek Marathon Saterdag.

“Musiek is my genesing. Ek lewe. Ons lewe en dit moet gevier word.”

Back to top button