Local newsNewsNews

Mirandi se ster skitter steeds

Hoe gaan dit met die Vaal se skitterster Mirandi? Lees meer...

VEREENIGING – Sy het Suid-Afrika verlede jaar bekoor in Die Kontrak 3 en met ‘n algehele tweede plek en ‘n platekontrak weggestap.

Mirandi het harte gesteel met haar eerlike aanslag en sterk geloof. ‘n Bondel energie wat bykans enige genre kan sing.

Mirandi saam met haar man, Chris Mörsner by die Afri-Indie Toekennings. Foto: Photo Vision Studio

Nadat die reeks klaargemaak het, het haar enkelsnit, As jy bid, vir lank op verskeie radiostasies se Top 20 speellyste geboer en onlangs is nog ‘n enkelsnit, Wille Sarie vrygestel.

Vroeër die maand het sy geskitter as gaskunstenaar en aanbieder van die Afri-Indie Toekennings.

Intussen skryf sy steeds haar eie liedjies en tree gereeld op by alles van kunstefeeste tot markte.

Haar musiek is al dwarsoor Suid-Afrika gehoor en eersdaags is sy ook te sien by Laerskool Vryheidsmonument se Hartklopfees (6-8 September) en die Heidelberg Velliefees (14 September).

“2024 was sover nie ‘n maklike jaar nie. Ek het baie gegroei, maar ervaar ook baie teenstand.

“Ek het op die harde manier geleer, nie almal dra altyd jou belange op die hart nie en haters is daar oral,” vertel sy rustig in haar huis op ‘n kleinhoewe buite Vereeniging.

Deur alles dra haar geloof haar en staan sy sterk met die ondersteuning van haar ouers en haar man, Chris Mörsner.

Mirandi tydens haar onlangse vertoning in Montana, Pretoria. Foto: Louise Visser

“My pa is steeds my grootste ondersteuner,” lag sy. Naas haar musiek lê berading haar ook na aan die hart.

“Ek het onlangs kursusse voltooi in onder andere trauma en huweliksberading.”

Mirandi het ‘n groot hart vir kinders en volwassenes wat geboelie word en mishandelde vroue.

“Hulle storie is my storie. Ek ken die seerdoringpad wat die lewe soms met jou stap. Ek is net dankbaar ek het vandag die regte coping tools om alles te kan hanteer en ek wil ander help.”

Een ding is verseker, Mirandi maak reeds ‘n reuse impak op almal wat haar pad kruis, want sy laat jou die lewe deur haar oë sien.

“Dis kosbaar. Mense is kosbaar. Liefde is sterker as omstandighede en geloof anker jou,” en haar blou oë blink helder.

Back to top button