News

Toekoms blink vir bloedjong musiekgroep van Meyerton

Hulle is nog maar bloedjonk, maar maak al reeds opslae in die musiekwêreld.

MEYERTON – Die datum 7 Augustus 2024 sal as ‘n groot hoogtepunt in die lewe van die 4 Eva Young Band onthou word.

Die bloedjong musiekgroep wat bestaan uit Caitie Rock (14), Johan van Rooyen (14), Zandri Bezuidenhout (12) en Reuben Herbst (13) het met hul enkelsnit Tiekiedraai ‘n toekenning vir Beste Kinder Enkelsnit by die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaarstoekennings gewen.

Die liedjie is verlede jaar uitgereik.

Die groep het die liedjie saam met Richann Brüssow van die sangduo Reën geskryf en dit in sy ateljee LiedjiePlaas op sy plaas buite Vredefort in die Vrystaat opgeneem.

Die musiekvideo van die enkelsnit is die afgelope agt maande al 13 000 keer op YouTube gekyk. Die musiekgroep het in ‘n Facebook-plasing vir Richann Brüssow, Dirkie Lochner, Carlien Coetzer en al die dansers, vriende en vriendinne wat deel was van Tiekiedraai bedank, sowel as die musiekpromotor Lydia Winchester vir haar raad en liefde.

Die groep is ook vir Aitsa-toekenning benoem.

Back to top button