Local newsNewsNews

Ek sê maar net… dat ‘n tand nou so kan lol

RUBRIEK - Sy is in graad 2. Gesels 'n hond uit 'n bos uit, maar laat jou vir 'n wyle van die besige wêreld en sy geite vergeet. Ontmoet Udia Grobler.

RUBRIEK – Haar tannie noem haar Koerant. Haar oupa reken sy’t ‘n radio ingesluk. Gesels die kan sy.

Udia Grobler is net in graad twee, maar met die wêreld se selfvertroue. Dinsdag oggend kry ek haar in Kollegepark se personeelkamer vir ‘n onderhoud.

Die jongeling het uitstekend gevaar by die ATKV se Nasionale Redenaarskompetisie. Vat my ‘n minuut of twee om te besef ons het al ontmoet.

“Ja, ons het toe in daai hoek gesit,” beduie sy. Haar enigste bekommernis is dat sy die keer sonder haar voortand in die koerant gaan verskyn.

“Nou wanneer het die tand uitgekom,” vra ek.

“Net nadat ek gepraat het by die kompetisie. Die tand was al ‘n week lank los, maar my ma het gesê die tand moet asseblief tog bly totdat die kompetisie verby is,” vertel sy.

Sy het die tand sommer self uitgepluk. “Raai wat, ek het uitgevind wie is die tandmuis. Dis my ma en pa. Ek is te slim.”

“Het jy darem geld gekry vir die tand?”

“Nee, ek het mos geweet dis my ma en pa en my ma het per ongeluk die tand weggegooi,” skud sy haar kop oor die vreeslike gedoente.

Udia is net dankbaar haar praatjie was vroeg die oggend. “Ek het tweede van die graad 1 tot 3’s gepraat en toe het ek langer tyd gehad om te swem.”

Die finaal is by die ATKV Klein Kariba vakansieoord gehou en dis duidelik Udia het dit baie geniet.

“My pa het my gewys hoe om die warm water wat so afkom by die binne swembad op jou rug te laat val en dan masseer dit jou rug.

“Hy het mos krieket saam met my nefies gespeel en toe is sy rug seer. Toe sit hy heeldag net so onder die water wat val.

“Is omdat hy al 40 is, maar hy kan darem nog krieket speel.”

Ek verstaan waar kry die kleine juffrou haar familie byname vandaan. Dis duidelik sy wil nog lank gesels. Ek ook, maar die werk roep.

Buite die personeelkamer draai sy regs klas toe en ek links hek toe. Sy storm weer terug, gee my eers ‘n drukkie.

“Sterkte vir die kunstefees” sê ek. “Sterkte met al die stories. Sien jou weer,” en dan wip sy by die deur uit.

Buite wag ‘n besige dag, maar soms is dit goed om net stil te sit en na stories oor verlore tande te luister.

Back to top button