Local newsNewsNews

Polisie vind R32 000 se gesteelde skape terug

Boere van die omgewing bedank die betrokke polisielede vir hul flink diens.

 

VEREENIGING. – Die polisie se Sedibeng Berede-eenheid het op Vrydag, 2 Augustus, ‘n groot slag teen veediewe geslaan toe R32 000 se gesteelde skape teruggevind is.
Die drama het in die vroeë oggendure van Vrydag, 2 Augustus begin toe 12 Meatmaster-skape ter waarde van R48 000 omstreeks 01:00 die nag by die Zoekfontein/VaalBank-kleinhoewes gesteel is.

Lede van die Sedibeng Berede-eenheid was later die oggend besig met ‘n gesamentlike landelike misdaadvoorkomingsoperasie toe hulle met die bystand van ‘n plaaswerker, op agt volwasse skape en twee baie jong lammers afgekom het. Die skape se pote was vasgebind en hulle kon slegs op die grond lê. Buiten vir een pasgebore lam wat dood is, was die res nie beseer nie.

Nadat die regmatige eienaar sy diere geïdentifiseer het en ‘n veediefstaldossier geregistreer is, is die skape aan die eienaar teruggegee. Vier van die 12 gesteelde skape is nog nie teruggevind nie.
Boere van die omgewing bedank die betrokke polisielede vir hul flink diens. Hulle is kapt. Arthur Sono, kapt. Morné Brown, a.o. Johan Helm, a.o. Jacob Mqumbisa, sers. Thabo Machobane en sers. Bongani Morris.

n Klompie van die gesteelde skape waar hulle vasgebind gelê het.
‘n Paar van die gesteelde skape wat deur die polisie teruggevind en aan hul eienaar terugbesorg is.

Back to top button