AdvertorialBusinessNewsSponsored

Hoërskool Sasolburg vier 70 jaar met spogrevue!

Kaartjies is by die skool beskikbaar by 016 976 0534 of stuur ‘n e-pos na finances@sasolburghigh.co.za.

 

SASOLBURG. – ‘n Asemrowende genot wag op almal wat later die maand na die Hoërskool Sasolburg se revue gaan kom kyk. Die skool se opvoering, Carpe Decencia (“Gryp die dekades”) is ‘n uitsonderlike skouspel ter viering van die skool se 70ste bestaansjaar.
In Carpe Decencia word die essensie van elke dekade in ‘n warrelwind van nostalgie en uitbundigheid vasgevang. Dit gaan toeskouers terugneem na die skool se begindae in 1954 tot met sy trotse bestaan vandag.

Elke era word met skitterende vertonings, kleurryke kostuums en indrukwekkende stelle uitgebeeld ter ere aan die ryke geskiedenis en blywende gees van die skool.
Dit is ‘n ideale geleentheid vir alumni van die Hoërskool Sasolburg om hulle saam met vandag se personeel, leerlinge en ouers te verlustig in die herinneringe uit die ou dae. Carpe Decencia moedig almal egter ook aan om vorentoe te kyk en die toekoms te omhels. Die blywende boodskap is om elke oomblik aan te gryp en om die nalatenskap wat die skoolgemeenskap reeds oor geslagte heen verenig, te koester.

Die eerste aanbieding is Woensdagaand, 21 Augustus, om 18:00 by die Etienne Rousseau Teater (ERT) in Sasolburg. Kaartjies is by die skool beskikbaar by 016 976 0534 of stuur ‘n e-pos na finances@sasolburghigh.co.za. Indien daar die aand nog kaartjies beskikbaar is, sal dit ook voor die vertoning by die ERT-loket te koop wees.

As deel van die 70ste feesvieringe word ‘n reünie (slegs vir alumni en voormalige personeellede wat sedert 1954 tot 2023 aan die skool verbonde was), op 24 Augustus om 18:30 gehou. Die toegangsfooi is R10. Kerrie en rys, burgers en braaipakke sal te koop wees en vure sal verskaf word. Bring gerus u eie stoel en drinkgoed, kom kuier saam en luister na lewendige vermaak.

* Die Hoërskool Sasolburg het in 1954 met net ‘n handjievol leerlinge onder leiding van ‘n tydelike skoolhoof, mnr. J. van der Bergh, begin. Klasse is aanvanklik in monteergeboue op die huidige Laerskool A.J. Jacobs se terrein aangebied. In 1955 is die eerste permanente skoolhoof, mnr. J.K. Bester, aangestel. Bouwerk aan die Hoërskool Sasolburg se geboue het in 1959 begin en in 1960 is die voltooide skoolgebou amptelik deur A.J. Jacobs, die destydse direkteur van Onderwys, geopen en ingewy.

Die skool se opvoering vat die nostalgie uit die afgelope 7 dekades vas.

Back to top button