Local newsNewsNews

Ek sê maar net… Joernalis sonder skoene

RUBRIEK. - Wanneer 'n joernalis in die donkerte verdwaal en sonder skoene foto's moet neem.

RUBRIEK. – Dinsdagaand verdwaal ek in SW2, ten spyte van Tannie Google Maps se aanwysings.

Ek is opsoek na die judosentrum, maar Tannie Google se aksent is beroerd met die straatname, daar is geen straatligte wat werk nie en ek bly afdraaie mis.

Uiteindelik gewaar ek ‘n erf met baie motors voor. Met die uitklimslag hoor ek al die kinders. Dit klink amper soos Loftus wanneer die Springbokke uitdraf.

Begewe my agter die uitbundigheid aan en vind ‘n helder verligte saal uitgelê met ‘n spesiale oefenmat. Twee rye entoesiastiese kinders aan elke kant.

Hoofafrigter, Philip trek kort-kort twee ywerige deelnemers nader en dan pak die twee mekaar op die mat.

“Nee, ek het gesê julle moet ondersteun. Ek wil hoor wat julle sê, moenie net gil nie,” spreek hy die ondersteuners aan.

Hulle knik instemmend, maar met die volgende geveg, gaan die volume selfs hoër.

Dis die einde van die klas. Die jongspan vorm ‘n netjiese ry en die afrigter gesels met elkeen. Vra iedereen wat beteken die een of ander judo term. Die wat nie weet nie moet sak vir vyf opstote.

“Wie moet ek afneem?” vra ek voordat almal by die deur uit verdwyn.

“Die wat SA’s toe is. Ek kry hulle gou. Jy sal jou skoene moet uittrek.”

Ek hoop maar daar het nie êrens deur die dag ‘n gat in my kous ontwikkel nie. Loop half onseker op my kouse oor die mat.

“Wil julle daar voor die muur staan?” vra ek en beduie na wat vir my die logiese plek lyk.

“Nee tannie. Hier voor die oom se foto. Altyd hier.”

Weet nie wie was die oom op die foto nie. Ook nie vir haar gesê dat oom glad nie op die foto gaan verskyn nie.

Ek neem die foto, vergeet amper my skoene en draai weer twee maal verkeerd alvorens ek Rossini Boulevard in die donker vind.

Wens ek het soveel energie soos daardie jongelinge gehad. Sela!

Back to top button