News

Lee Luka se roeping om jong talent te slyp

Die sangeres help om plaaslike sangtalent te slyp.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (5- 11 Julie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

MEYERTON. – Sy sing al vir so lank as wat sy kan onthou en het trouens al gesing nog voor sy kon praat.

Só vertel die bekende Meyertonse sangeres en sangafrigter Lee Luka, oftewel Lea White.

Vir haar is sang immers ‘n lewenswyse, die kern van haar bestaan.

“My eerste liedjie was Twinkle Twinkle Little Star en ek was skaars ‘n jaar oud toe ek dit begin sing het. As ons uitgegaan het, het my pa my toegelaat om op die tafels te staan en mense te vermaak. Mens kan sê ek is ‘n gebore sangeres en ‘performing artist’,” vertel die sangeres wat nou haar kennis deel en sangafrigting aan jongmense van Meyerton bied.

Sedert sy in 2017 haar sangskool, Love to Sing, – wat individuele ‘one-on-one’ sanglesse bied – gestig het, het sy al baie mense se lewens geraak deur middel van sang.

By haar sangskool leer Lee Luka haar studente die basiese beginsels van sang en bou sy hulle van grondslag af.

“Ons begin met baie eenvoudige tegnieke soos diksie, transisionering en natuurlik asemhaling, want dit is baie belangrik.”

“Van daai grondslag af beweeg ons dan oor na kontemporêre musiek en hoe om daai tegnieke toe te pas in jou kontemporêre musiek.”

“Van daar af beweeg ons na verhoogvertonings, gebruik van die verhoog en soortgelyke dinge,” vertel sy.

“Een van my drome is om – met die Here se hulp – die sterre van môre te ontwikkel,” vertel Lee Luka met ‘n glinster in haar oog.

Om jong sangtalent te slyp is vir haar ‘n passie.

Lee Luka sing uit volle bors tydens ‘n plaaslike optrede. Foto: Christiaan Cloete

Sy het die afgelope paar jaar gehelp om bekende sangers van Meyerton – wat besig is om groot sukses te behaal – te slyp, soos die plaaslike sanger Caitie Rock, wat ook ‘n sangeres in die 4 Eva Yound Band is, sowel as die talentvolle Lachelle Mileham.

“As ek eendag in die ouetehuis sit en ek hoor hierdie kinders se musiek oor die radio sal dit my baie gelukkig maak,” vertel sy skertsend.

Lee Luka het ook haar dogter, Benescke White, wat onlangs groot welslae in sangkompetisies behaal het, afgerig.

Buiten die afrigting is Lee Luka ook ‘n ervare sangeres wat steeds musiek saam met die musikale vervaardiger, Johan Kelber, maak.

Lee Luka saam met Caitie Rock,
een van haar jong vooruitsigte. Foto: Verskaf

Daar is ook ‘n paar liedjies in die pyplyn, wat binnekort vrygestel kan word.

Lee Luka vertel dat sy in ‘n baie musikale huis grootgeword het. Haar ma het orrel gespeel en sy onthou hoe sy dikwels by haar ma gaan sit het terwyl sy alles van geestelike liedjies tot House of the Rising Sun gespeel het.

Haar pa was ook baie entoesiasties oor musiek en het haar blootgestel aan die musiek van Queen, The Beatles en verskeie ander musieksoorte.

Dit was egter haar onderwyser by die Leeuwspruit Primêre Skool in Sasolburg, Piet Sevenster, wat haar sangtalent raakgesien het en haar aangemoedig het om sang verder te vat.

Op 11-jarige ouderdom het Lee Luka se ma haar na ‘n opnameateljee in Vanderbijlpark geneem waar sy haar eerste kasset, getiteld ‘Best Friends’ ogeneem het.

‘n Paar jaar later het sy ‘n CD onder die naam ‘Lea’ vrygestel.

Die sangeres Lee Luka, oftewel Lea White. Foto: Verskaf

Die liedjie se naam was Ride on the Wind. Later het sy by die musikale produksie Fantasia betrokke geraak.

Nadat sy en haar man, Pieter, getroud is en na die Midde-Ooste toe getrek het (Pieter het ‘n kontrak in die konstuksiebedryf gehad) het sy hoofsaaklik by koffiewinkels en by feeste gesing.

‘n Paar jaar later het hulle kinders gehad, waarna sy haar sangloopbaan vir eers opsy geskuif het om ‘n voltydse ouer te wees.

“Toe ek terugkeer na die sangbedryf was daar reeds ‘n pragtige blondekop genaamd ‘Leah’ wat musiek maak. Ek het toe besluit om my sangnaam na Lee Luka te verander,” vertel sy.

Haar unieke naam het betekenis: die ‘Lee’ was ‘n bynaam wat haar stiefseun vir haar gegee het en die ‘Luka’ is afkomstig van ‘Lukas’ – ‘n troetelnaam wat haar pa haar gegee het.

Lee Luka gesels met Vaalweekblad se verslaggewer by ‘n plaaslike koffiewinkel. Foto: Christiaan Cloete

Back to top button