Local newsNewsNews

Kinderharte moet weer ‘tjoklits’ klop

Maak nader kennis met Krugerlaanskool se hoof, Mnr. Josef 'Pottie' Potgieter.

VEREENIGING – Mnr. Josef Potgieter, die vierde skoolhoof van Krugerlaanskool in 70 jaar, beklee die pos al sedert 1 November 2011.

Hy praat van die leerders as sy kinders. Sy grootste missie is om seker te maak elke leerder besef hoe waardevol hy of sy is.

Mnr. Potgieter het Vrydag, 19 Julie ‘n erekleure skoolbaadjie ontvang tydens die skool se 70 jaar vieringe. Foto’s Gerda Bruinette

“Teen die tyd wat die kinders by ons aanland, voel hulle soos mislukkings en niks werd nie. Ek wil seker maak hulle harte klop weer tjoklits.”

Die skool word die kinders se veilige plek, waar hulle kan leer, groei en hul ware potensiaal ontdek en uitleef.

“Daar bestaan nie iets soos ‘n dom kind nie. Hier werk ons met ‘n mens. Elkeen is uniek, elkeen se storie is anders,” verklaar hy.

Na 40 jaar in die onderwys vertel Potgieter graag die suksesverhale van vorige leerders.

Hy het in standerd drie (graad vyf) vir ‘n onderwyser gesê, hy wil ook ‘n onderwyser word. “Mnr. Jacobs het net gesê, jy gaan nie geld maak nie,” onthou hy.

Die onderwysdroom het gebly, al wou sy pa hê hy moes ‘n ambagsman word soos sy broers.

Derhalwe is hy na sy laerskooljare in Stilfontein, na die tegniese skool in Klerksdorp. In standerd agt het hy vir sy pa gesê sy onderwysdroom is steeds daar.

“Ek was gelukkig ‘n goeie atleet en het ‘n sportbeurs by die voormalige Potchefstroom Onderwyskollege gekry.”

Vele jare later, toe Potgieter as adjunkhoof aangestel is, het sy pa erken dat hy verkeerd was.

In die vroeë 80’s het hy sy verpligte diensplig voltooi en by Keurhofskool in Klerksdorp begin.

“Ek het my prakties daar gedoen in my vierde jaar en die hoof het gesê, wanneer ek klaar is met diensplig moet ek terugkom. Ek het, en so het my loopbaan as onderwyser by skole vir leerders met spesiale leer behoeftes begin.”

Een van die vele hoogtepunte in sy 40-jaar loopbaan is toe een van sy 2000m hindernis atlete, Johan Lottering, in 2001 gekwalifiseer het vir die Junior Wêreldkampioenskappe in Hongarye.

“Johan het vierde geëindig, maar met elke rondte het hy sy eie Suid-Afrikaanse rekord verbeter,” onthou Potgieter met ‘n glinstering in die oog.

Potgieter is getroud met Ann, ook ‘n onderwyseres en die egpaar het ‘n seun, Jose en ‘n dogter, Nadine.

Jose woon tans in Australië en Nadine in Kanada, maar hopelik sal die Potgieters eersdaags weer die kinders kan besoek, tot dan hou Krugerlaanskool se 70ste bestaansjaar Mnr. Potgieter besig.

Back to top button