Local newsNewsNews

Van Helsdingen se drome kry vlerke

Hy is 'n inspirasie elke Vaaldriehoeker

VEREENIGING – Om die wêreld in 80 dae! Of in hierdie geval in slegs vier weke. Dit is die epiese reis wat die 58-jarige Riaan van Helsdingen beoog om oor ‘n jaar en ‘n half aan te durf.

“Dit gaan my 60ste verjaardaggeskenk aan myself wees om om die ekwator om die wêreld te vlieg,” vertel hy trots. Maar dis nie al nie. Hy beoog om hierdie magiese reis in ‘n vliegtuig aan te durf wat hy self stukkie vir stukkie uit veselglas gebou het.

Wanneer mens by sy ruim werkswinkel langs die R59 instap, begroet die oorweldigende reuk van hars (resin) jou. Sy gesig is bedek met ‘n wit poeier, die stille getuienis van sy handearbeid. Hy is letterlik besig om vorm aan sy droom te gee. Hy skuur al maande aan sy vliegtuig se romp.“Wat jy hier sien het ek alles self gedoen.

Nie te sleg vir iemand wat disleksies is en standard ses gedop het en boonop op 16-jarige ouderdom skool verlaat het nie. Ek doen hierdie om my eie vermoëns aan myself te bewys. Mens lewe jou hele lewe met dit (disleksie).

Dit word nie beter nie. Mens se selfbeeld word deur dit geknak. My hele lewe moes ek hoor dat ek lui is en niks gaan bereik nie,” vertel hy met hartseer in sy oë en stem.

Volgens Riaan gaan hy homself by ‘n uitgelese groep van slegs 400 mense wêreldwyd aansluit wat dit al kon vermag om om die wêreld te vlieg.

Wat hom egter verder gaan onderskei is die feit dat slegs ‘n handjie vol vlieëniers dit in vliegtuie kon regkry wat hulle self gebou het. Nadat hy skool op 16 verlaat het, het hy as vakleerling by die destydse Usco begin werk. Hy het later sleepwaens, bote en karavane gebou en is tans die eienaar van Sensation Outdoor.

“Van my vroeë besigheiddae was my doel nooit om geld te maak nie. Ek wou mense opgewonde maak. Ek geniet dit om iets te skep maar hou nie van massaproduksie nie

Dan word jy ‘n voorman en ek hou nie daarvan nie” Die saadjie en liefde vir vlieg is reeds op hoërskool geplant. “Ons hoofseun se pa het gevlieg. Vir my het lugvaart en sukses hand aan hand gegaan,” vertel hy. Om jou vlieglisensie te kry is een ding maar om ‘n vliegtuig te ontwerp is ‘n perd van ‘n ander kleur. “Die maklikste om te doen as jy op jou eie is om ‘n bestaande vliegtuig te neem en te ‘reverse engineer.’

Om dit uitmekaar te haal is baie duur,” vertel hy. In sy soeke om ‘n vliegtuigenjin te vind wat 24 uur aaneen kan vlieg, het sy paadjie gekruis met Francois Jordaan ‘n vlieginstrukteur wat in sy 80’s is en die vliegtuig ontwerp het. Hy gaan ook Riaan se medevlieënier wees. Wat die roete betref, sal die reis in Lanseria begin waarna Riaan-hulle in Ruanda, Angola, Cape Verde, Florida, Wisconsin, Hawaii, Filipyne, Kuala Lampoer, Sri Lanka en Seychelle gaan land voordat hulle terugkeer Suid-Afrika toe.

Daar word styf duim vasgehou vir hierdie inspirerende Vaaldriehoeker.

Back to top button