News

Carien (16) wil terug skool toe ondanks harde kankerpad

Carien het gedurende die eerste week van Julie haar opvolg-chemoterapie in Bloemfontein ontvang en is nou vir vier weke terug in Sasolburg.

SASOLBURG. – Carien van Dalen (16) is terug by die huis nadat sy vroeër die maand haar vyfde chemoterapie in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein deurloop het. ‘n Kankergewas van 7 kg is in Januarie van een van dié tiener se eierstokke verwyder en sedertdien veg sy moedig om die siekte onder beheer te kry.
Sy is op 28 Junie in die hospitaal opgeneem vir ‘n CT-skandering en het saam met haar dokters en familie gehoop dat die afgelope maande se intensiewe behandeling die kanker sou vasvat. Die teleurstellende uitslag was dat sy steeds kanker het, maar dat dit gelukkig nie verder versprei het nie.

“Die chemo werk stadiger as wat die dokters verwag het maar ons bly hoopvol,” sê haar ma, Chrissie. Carien het gedurende die eerste week van Julie haar opvolg-chemoterapie ontvang en is nou vir vier weke terug in Sasolburg. Op 1 Augustus moet sy weer in Bloemfontein wees vir haar sesde chemo.

“Sy is baie swak, dikwels naar en slaap baie. Sy kan net sekere soorte kos inhou. Omdat sy so min eet, is sy brandmaer,” sê haar ma. “Sy mis haar skoolmaats en onderwysers en wil met alle mag teruggaan skool toe wanneer sy sterker is. Sy het reeds self besluit om haar graad 10-jaar te herhaal omdat sy weens haar behandeling so baie werk verloor het.”

Die gesin kry finansieel en emosioneel swaar en dis duidelik dat Chrissie, wat 24 uur per dag na haar kind omsien, baie uitgeput is. Enigiemand wat die gesin geldelik wil bystaan met brandstofkoste Bloemfontein toe of om Carien se spesiale kos te kan koop, kan ‘n inbetaling maak aan mev. C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.

Carien tydens haar eerste chemo-sessie in Maart.
Carien is by tye baie naar en slaperig van die chemo-behandeling.
Carien van Dalen (16) sterk nog aan nadat sy pas haar vyfde chemoterapie deurloop het. Ondanks haar geveg begin sy erg na haar maats en onderwysers verlang.
Op beter dae is Carien se pragtige glimlaggie terug, al lê daar nog harde werk voor om die kanker finaal te klop.

Back to top button