![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/119/2024/06/TT2-780x470.jpg)
DALESIDE. – Die individuele tydtoets staan allerweë in fietsry as die “Wedren van Waarheid” bekend; want hier is dit net die individuele fietsryer, sonder spanmaats, in ‘n wedren teen die klok gewikkel.
Die speke het behoorlik gesing toe 53 fietsryers Saterdag, 8 Junie aan die derde byeenkoms van Albion Wheelersfietsryklub se tydtoetsreeks by Café du Cirque deelgeneem het.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/119/2024/06/TT3.jpg)
Die 2024 Gauteng-tydtoetskampioen, Brandon Downes van die TEGfietsryspan, het gewys waarom hy as een van die provinsie se beste fietsryers gereken word, toe hy die afstand van 13.4 km in ‘n tyd van 18 minute en 36 sekondes afgelê het.
Cullen Posthumus van Bike Craft Performance (+00:09:08) het ‘n tweede plek behaal en Ruan Smit van Fullgaz (00:15:60) was algeheel derde.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/119/2024/06/TT1-1.jpg)
Die stadigste deelnemer het die afstand in 38 minute en 15 sekondes afgelê en het sowat 19 minute en 38 sekondes ná die formidabele Downs klaargemaak.
Die tydtoetsreeks, wat uit vyf individuele tydtoetse en een span tydtoets bestaan, is groot pret vir jonk en oud, of jy nou ‘n ervare professionele wielrenner is of sommer net vir bietjie oefening ry.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/119/2024/06/TT4.jpg)
Die volgende byeenkoms vind 22 Junie by Café du Cirque in Daleside plaas, waartydens fietsryers ‘n roete van 25.3 km na Drumblade se rigting en terug na Café du Cirque sal aanpak.
Die tye van die byeenkomste is na 10:00 verskuif om meer fietsryers te akkommodeer.
Die wedrenne word tot 120 inskrywings beperk. Die inskryffooi is R60.
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/119/2024/06/TT5.jpg)
![](https://images.caxton.co.za/wp-content/uploads/sites/119/2024/06/BHH1.jpg)