News

25 jaar tronkstraf vir Tannie Charlotte (67) se moordenaar

Geregtigheid het uiteindelik vir die vermoorde Charlotte Fenn (67) van Sonlandpark geskied.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (24 Mei tot 30 Mei) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste plaaslike nuus.

VEREENIGING. – Die man wat die 67-jarige Charlotte Fenn van Sonlandpark met haar eie handwapen doodgeskiet en daarna haar lyk in ‘n veld gestort het, is onlangs tot altesaam 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Regter Jacob Mlotswa het op 17 Mei in die rondgaande hooggeregshof in Palm Ridge vir Quinton Edgar (53) tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Fenn, op wie se kleinhoewe hy loseer het.

Edgar is tot ‘n bykomende 10 jaar tronkstraf gevonnis vir die diefstal van Fenn se KIA-bakkie, 10 jaar tronkstraf vir opsetlike saakbeskadiging (nadat hy die bakkie aan die brand gesteek het om bewyse te vernietig), vyf jaar tronkstraf vir die onwettige besit van Fenn se vuurwapen en ‘n bykomende 12 maande vir die onwettige besit van ammunisie.

Die vonnis vir die moord sal afsonderlik uitgedien word, terwyl die ander vonnisse samelopend uitgedien sal word.

Edgar word dus in effek tot 25 jaar tronkstraf gevonnis.

Quinton Edgar gesels met sy saamleefmaat, Lindsay Kirton, nadat hy gevonnis is. Foto: Christiaan Cloete

Edgar se saamleefmaat, Lindsay Kirton (32), wat saam met hom op die oorledene se kleinhoewe loseer het, is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir haar aandeel aan die moord.

Sy is ook vyf jaar tronkstraf vir die diefstal van Fenn se voertuig en vyf jaar vir opsetlike saakbeskadiging opgelê.

Al hierdie vonnisse sal samelopend uitgedien word, wat beteken dat Kirton dus in effek slegs vyf jaar tronkstraf sal uitdien.

Lindsay Kirton bid in die hof nadat sy gehoor het dat sy slegs vyf jaar tronkstraf hoef uit te dien vir haar rol in die moord op Charlotte Fenn (67). Foto: Christiaan Cloete
Lindsay Kirton omhels haar regsverteenwoordiger Nthabiseng Mokoena. Foto: Christiaan Cloete

Grant du Toit, die oorledene se seun – wat voorheen ‘n medebeskuldigde was, maar intussen vrygespreek is, het na afloop van die vonnis gesê dat hy baie tevrede is met Edgar se vonnis en dat hy voel dat geregtigheid geskied het.

Hy was egter teleurgesteld oor Kirton se vonnis, aangesien hy meen dat dit veels te lig is.

Du Toit het vir langer as ‘n jaar met ‘n swaard oor sy kop geloop nadat Edgar en Kirton hom deur middel van vals verklarings met die moord verbind het.

Eers nadat die uitslag van DNS-toetse onthul is en die staat toegegee het dat hulle geen bewyse het om Du Toit met die moord op sy ma te verbind nie, het Edgar gebieg dat hy Grant valslik by die moord probeer betrek het, terwyl hy (Edgar) self vir Fenn doodgeskiet het.

Grant du Toit, seun van die vermoorde Charlotte Fenn (67) vee sy trane af. Hy is valslik van sy ma se moord beskuldig en vroeër vanjaar vrygespreek. Foto: Christiaan Cloete

Die twee (Edgar en Kirton) het in die doodsnikke van die saak vir Du Toit verskoning gevra, maar hy het dit verwerp aangesien dit in daardie stadium te laat was.

Advokaat Michael Shivuri het namens die staat in die saak opgetree, Elliot Mogale namens Grant du Toit, Nthabiseng Mokoena namens Kirton.

Die polisie se distrikskommissaris, maj. genl. Nkhensani Lemba, het die ondersoekspan vir hul harde en deeglike werk geloof. “Ek is baie dankbaar vir die waterdigte saak wat die ondersoekspan in die hof gelewer het en wat daartoe bygedra het dat die beskuldigdes gevonnis is,” het Lemba ter afsluiting gesê.

Die vermoorde Charlotte Fenn (67). Foto: Christiaan Cloete

Back to top button