News

NGV-skok: Ramaphosa nasionaliseer Woensdag gesondheidsorg in SA

Die land het met skok gereageer op die nuus dat pres. Cyril Ramaphosa Woensdag die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal bekragtig en daarmee effektiewelik gesondheidsorg sal nasionaliseer.

PRETORIA. – Die presidensie het bevestig dat pres. Cyril Ramaphosa Woensdag (15 Mei) die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering tydens ‘n seremonie wat om 14:00 plaasvind by die Uniegebou in Pretoria sal onderteken.

Kenners waarsku lankal dat die wetsontwerp in sy huidige vorm tot ‘n uittog van dokters en opgeleide gesondheidspersoneel sal lei en gesondheidsorg verder sal verswak.

Die DA-leier, John Steenhuisen, het in reaksie hierop gesê dat die aankondiging paniek onder mense gesaai het.

“Hierdie aankondiging het wydskaalse paniek onder die mense van Suid-Afrika gesaai…Die skaal van paniek in reaksie op hierdie aankondiging is ongekend,” het Steenhuisen gesê.

Steenhuisen meen Ramaphosa het hierdie stap uit politieke desperaatheid geneem in die aanloop tot die nasionale verkiesing aan die einde van die maand.

“(Dit is) ‘n goedkoop verkiesingsfoefie, waar die ANC die lewens van die mense as politieke rekwisiete gebruik,” meen Steenhuisen.

Volgens Steenhuisen speel Ramaphosa met die lewens van Suid-Afrikaners vir denkbeeldige politieke gewin.

Volgens Steenhuisen sal die DA die NGV in die grondwethof betwis.

“Ons sal bewys dat die prosesse wat gelei het tot die aanvaarding van hierdie wetsontwerp deur die parlement, openbare insette verontagsaam het en dat die wetsontwerp opsigself ongrondwetlik is,” sê Steenhuisen.

*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Vaalweekblad kan die storie aanpas of opvolg indien ons meer inligting ontvang.

Check Also
Close
Back to top button