Local newsNewsNews

TV aanbieder in hof vir bedrog

Hulle word van diefstal, bedrog en geldwassery aangekla.

VEREENIGING. – Henriëtte Marx, bekende aanbieder van die gewilde kykNET-reeks ‘Net Koffie’ en ‘n inwoner van Vereeniging, het Donderdagoggend, 7 Desember saam met haar sakeman-eggenoot, Dries Marx en ‘n medebeskuldigde, Paul McIntyre, in die hof vir kommersiële misdrywe in Pretoria verskyn op aanklagte van diefstal, bedrog en geldwassery.

Die klaer in die saak is Yellow Star Manufacturing onder die direkteurskap van Hanno van Dyk.

Volgens die klagtstaat was Dries Marx die besturende direkteur van die maatskappy met 20% aandeelhouerskap vanaf 2018 tot en met 2022 toe hy afgedank is.

Gedurende hierdie tydperk was hy verantwoordelik vir die daaglikse bestuur van die fabriek in Telfordstraat in Duncanville.

Henriëtte Marx, bekende tv-aanbieder en haar sakeman-man, Dries Marx. Foto: Henriëtte Marx/Facebook

Paul McIntyre is in April 2019 deur Dries as kliënteskakelbeampte aangestel.

In die klagstaat word daar aangevoer dat geld reguit uit Yellow Star Manufacturing se bankrekening in bankrekeninge van die beskuldigdes se maatskappye DHM Traders, Tabgha Holdings, Arabica Productions en Coffee Excellence oorbetaal is.

McIntyre het volgens die klagstaat ook betalings ontvang.

Die totale bedrag ter sprake is glo R32 miljoen.

Al drie die beskuldigdes is op borgtog van R20 000 elk vrygelaat op die voorwaarde dat hulle toekomstige hofverskynings bywoon, hulle paspoorte oorhandig en nie vir reisdokumente mag aansoek doen vir die duur van die verhoor nie.

Die beskuldigdes mag ook nie kontak met getuies in die saak hê nie.

* Hulle moet weer op 31 Januarie 2024 in die hof verskyn.

Paul McIntyre is ‘n medebeskuldigde in die saak. Foto: Paul McIntyre/Facebook

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button