SportSportSportSport

VRK hark nuwe afrigters nader vir 2024

Die Vereeniging Rugbyklub wil die 2024 rugbyseisoen met 'n knal ref

VEREENIGING. – Die Vereeniging Rugbyklub (VRK) het ‘n nuwe stel besems “aangeskaf” om klub se paadjie na bekerglorie skoon te vee.

VRK wat die laaste dekade die toonaangewende klub in die Vaaldriehoek was, het ‘n nuwe afrigters-korps aangestel om te sorg dat die klub nie weer ʼn bekerdroogte sal beleef nie.

Die noemenswaardigste aanwins van buite die VRK-gelede is by die eerste rugbyspan waar  twee gesoute rugbymanne Ockert Brits en Shaun Botes die leisels oorneem. Die tweemanskap het Springs Rugbyklub se eerste span met onderskeiding afgerig. Onder hul leiding het Springs laas in 2019 ʼn ligawedstryd verloor en dit was in die eindstryd.

Hulle het in 2022 en 2023 die Peregrine-liga gewen en beoog om dieselfde wenkultuur by VRK te vestig.

Benewens vir dié aanwins het VRK uit eie geledere raakgevat. By die o.21’s gaan Desmont Lamont, Jandre Volschenk en Johan Groenewald die Young Guns onder hande neem.

Desmond is een van die suksesvolste afrigters in VRK se geskiedenis. Hy het as speler bloed gesweet vir die eerstes en as afrigter 3 uit 4 o.21-ligas gewen. Hy het by die tweedes ook twee ligas gewen.

Jandre het as Speler ses keer die tweedespan-liga gewen en het in 2023 as afrigter by die o.21’s betrokke geraak. Johan is ʼn bekende en gerespekteerde afrigter op skoolvlak en is gereed om nou op die volgende vlak sy stempel af te druk.

Die tweedespan sal aanstaande jaar deur Ruan Muller, voormalige stut van VRK se eerste rugbyspan, gebrei word.

Daar word gesê nuwe besems vee die skoonste en dit is presies waarna VRK se bestuur gemik het.

 

Back to top button