SportSportSportSport

Miané Vaal se nuwe SA-kampioen

Die Vaal spog met 'n nuwe langasem wat nog die spore gaan trap

VANDERBIJLPARK. – “Ons familie terg altyd en sê die De Clerqs is staffies, nie windhonde nie… so ons is ‘tough’ maar nie vinnig nie!” So beskryf die 11-jarige Miané de Clerq, die SA-skole landkampioen, tong-in-die-kies die kern van haar landloop DNA.
nDie jong leerling aan die Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark het onlangs haar stoutste verwagtinge oortref toe sy by die SA-skole landloopbyeenkoms as die SA o.11-kampioen gekroon is.

“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek wou net beter as laasjaar doen,” vertel sy beskeie. Hoewel sy ook ‘n bedrewe tweekampatleet, netbalspeler en 1200 m-baanatleet is, is landloop haar gunsteling. Maar elke sport het sy soet en suur. “Ek hou die minste van die wegspring. Jou hart klop vinnig en die adrenalien pomp. Die lekkerste is sodra die resies begin en jy is op tempo en in ritme,” vertel sy. Soos enige ontluikende jong sportster het sy ook ‘n rolmodel… Marli Dimond.

“Sy is ook in ons oefengroep. Julle sal haar moet Google dan sal julle verstaan hoe goed sy is! Sy gee elke dag haar beste en kla nooit nie, al is sy hoe moeg. Sy praat so mooi met ons kleintjies en leer ons respek vir die ouer atlete wat voorrang kry op die baan. Die beste van alles is dat ons naam en van met dieselfde letters begin,” gee sy trots te kenne. Benewens die ondersteuning van haar oefengroep en haar ouers het sy in haar afrigter Johan “Oupa” Britz ‘n giftige pyl in haar koker.

Van SA-kampioene kweek kan jy hom niks vertel nie. Haar eerste voorsmakie van die SA-podium was in 2021 toe sy in Turbojav (spiesgooi vir jonger kinders) ’n bronsmedalje by die SA Klub Sub Jeug-kampioenskap verdien het.
“Ek was bevoorreg om in 2022 tot die finaal van die SA skole 1200 m deur te dring, maar ek het ongelukkig op die 700 m-merk geval en kon nie die resies voltooi nie.

Vanjaar het ek my PB gehardloop met 3:56 in die 1 200 m, maar by Gauteng was dit nie my dag nie en kon ek ongelukkig nie vir SA’s kwalifiseer nie. Dié twee dae is waar ek my grootste teleurstelling beleef het en my grootste lewenslesse nóg geleer het. Dit het my nog harder laat oefen,” sê sy.

Back to top button