Local newsNewsNews

Mynmaatskappy wil Redan, antieke rotskuns platvee om fossielbrandstowwe te myn

Terwyl die wêreld besig is om weg te beweeg van fossielbrandstowwe af het die mynmaatskappy Glubay Coal (Edms.) Bpk. nóg 'n aansoek by die departement van minerale hulpbronne en energie ingedien om Steenkool tussen Meyerton en Vereeniging myn.

VEREENIGING. – Die maatskappy wil twee oopgroefmyne – die Vlakfontein-myn en die Springfield-myn – op die plase Damfontein, Kookfontein, Vlakfontein, Waldrif en Smaldeel vestig.

Die area sluit hoofsaaklik die gebied tussen die R59 en R82 (Ou Johannesburgweg), tussen Vereeniging en Meyerton in, maar strek ook verder wes as die R82.

Volgens Glubay Coal kan die projek bykans 550 werksgeleenthede skep; 300 werksgeleenthede by die groter Springfield-myn en 250 werksgeleenthede by die kleiner Vlakfontein-myn.

Die lewensduur van die beoogde Springfield-myn is ongeveer 30 jaar en die lewensduur van die beoogde Vlakfontein-myn ongeveer 26 jaar.

‘n Kaart wat die ligging van die beoogde Springfield- en Vlakfontein-myne tussen Vereeniging en Meyerton aandui. Foto: Christiaan Cloete

Vaalweekblad verstaan die vorige aansoek vir die Springfield-myn, wat ook deur inwoners van omliggende gebiede teengestaan is, is intussen laat vaar en dat die proses van nuut af begin het.

Daar word nou ook aansoek gedoen vir die kleiner Vlakfontein-myn, wat verder wes as die R82 (Ou Johannesburgweg) sal strek.

Dit beteken ook dat besware teen die ontwikkeling wat tydens die vorige proses van publieke deelname ingedien is, weer van voor af ingedien sal moet word vir die nuwe aansoek.

Heelwat inwoners het op Dinsdag 6 Junie 2023 tydens ‘n publieke vergadering vir belanghebbende en geaffekteerde partye by Laerskool Arconpark, besware geopper.

Volgens Yusuf Sather kan inwoners hulle tot die howe wend indien nodig om die ontwikkeling te keer. Foto: Christiaan Cloete

Inwoners van omliggende gebiede – wat Arcon Park, Waldrif, Falcon Ridge, Springcol, Harmoniesrus, Houtkop, Unitaspark, Vaalkop, Van der Merweskroon, Rust ter Vaal en Roshnee insluit – is bekommerd oor die myn se nabyheid aan wonings, sowel as die impak wat dit op omliggende gemeenskap sal hê.

Inwoners van landelike gebiede het ook kommer uitgespreek oor moontlike besoedeling van ondergrondse waterbronne.

Madrilene Heymans is bekommerd oor die impak wat mynboubedrywighede op ondergondse waterbronne kan hê. Inwoners van die landelike gebiede is afhanklik van boorgatwater en is veral bekommerd oor besoedeling. Foto: Christiaan Cloete

Die verlies van die waarde van landbougrond, negatiewe uitwerking op grond en landkapasiteit, die sosio-ekonomiese impak, die verplasing van besighede, die impak op biodiversiteit en sensitiewe ekologiese areas in die omgewing, geraas en vibrasies, die impak op oppervlakwater en luggehalte en die geologiese impak op ‘n gebied met dolomitiese grond word ook as moontlike probleme gelys.

Die Redan Rock Art Site, ‘n sandsteenrots buite Redan met tussen 200 en 300 rotsgravures wat moontlik uit die ystertydperk dateer, is geleë op die stuk grond wat geoormerk is vir myboubedrywighede en kan platgestoot word indien die aansoek slaag.

Besoekers by die rotse buite Redan waar daar tussen 200 en 300 rotsgravures is wat terugdateer uit die steentydperk. Foto: Christiaan Cloete

Die gebied is in 1971 as ’n nasionale monument verklaar en word in terme van die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne van 1999 as ’n provinsiale erfenisgebied beskou.

Vaalweekblad verstaan die Argeologiese Vereniging (ArchSoc) is gekant teen die ontwikkeling en het as ‘n belanghebbende en geïntereseerde party geregistreer.

Dan is daar ook die kwessie van die woonbuurt van Redan, wat binne die gedeelte val wat geoormerk is vir ontwikkeling.

Die tydperk vir publieke deelname sluit Donderdag 15 Junie 2023.

Een van die gravures op die rotse buite Redan. Foto: Christiaan Cloete
Een van die rotsgravures buite Redan. Foto: Christiaan Cloete

Inligting en verslae oor die myn is beskikbaar by www.zitholele.co.za/environmental onder die opskrif “Springfield Mining Right Application / Vlakfontein Mining Right Application” of by https:tinyurl.com/78jswt2 of https://tinyurl.com/yevbt5mk

Vir meer inligting en om as ‘n belanghebbende en geaffekteerde party te registreer kan jy die publieke deelname-kantoor ‘n e-pos stuur by Glubay.ppp@zitholele.co.za

Jy kan ook ‘n WhatsApp stuur aan 076 677 1235 of (011) 207 2060 skakel.

Jy kan hier meer inligting kry. Foto: Verskaf
Jy kan so registreer as ‘n belanghebbende en geaffekteerde party. Foto: Verskaf

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button