AmusingEntertainmentLifestyleLocal newsNewsNews

Na 50 jaar kuier Valia se oudmatrieks weer saam

“Wát ‘n historiese, onvergeetlike, kosbare naweek saam met ou skoolmaats van ‘n halfeeu gelede!"

VANDERBIJLPARK. – Dit was ‘n gekuier uit ‘n ander wêreld toe die Hoërskool Transvalia se matriekklas van 1972 onlangs vir ‘n naweek lank saamgekuier het vir hul 50ste reünie.

Die byeenkoms het Vrydagaand, 22 April met ‘n bring-en-braai op die walle van die Vaalrivier begin. Die Saterdagoggend en -middag het die groep ‘n rugbywedstryd tussen Transvalia se eerste rugbyspan en dié van Hoërskool Menlopark op die skoolterrein bygewoon, waar hulle stylvol deur Transvalia in die klubhuis ontvang is en die rugby vanuit die losie kon dophou.

Na die dag se sport kon die destydse skoolmaats ‘n toer deur die skoolterrein onderneem en hul ou klaskamers gaan soek. “Dit voel soos gister. Hoewel ons redelike veranderings in ons spieëls sien, is die harte en gees nog jonk,” het een van die maats opgemerk.

Die Saterdagaand het almal in ‘n restaurant saamgekuier waar die huidige skoolhoof, mnr. Johan Venske en sy vrou, 50 Jaar-medaljes aan die reüniegangers oorhandig het. Die naweek is die Sondagoggend met ‘n heerlike ontbyt by die Emfuleni-gholfklub afgesluit.

Van die destydse matriekklas van 162 woon talle deesdae in die Wes-Kaap of in die buiteland en kon die geleentheid nie bywoon nie, en 26, onder wie die destydse hoofseun Wimpie Erasmus, is reeds oorlede.

“Wát ‘n historiese, onvergeetlike, kosbare naweek saam met ou skoolmaats van ‘n halfeeu gelede! Ons is elkeen so dankbaar om die voorreg en genade te kon hê om ‘n naweek van ‘onthou jy nog…’ te kon deel en geniet. Só jammer vir dié wat dit weens omstandighede nie kon bywoon nie, en dié wat nie meer saam met ons is nie,” sê een van die reüniegangers, Annaline (van Wyk) van Vreden.

* Prof. Johan Olivier, een van die klasmaats uit 1972, was die hooforganiseerder van die reünie.

 

Foto Onder: Transvalia het dié pragtige 50 Jaar-medaljes aan die oud-matrieks geskenk. Dit is deur die huidige skoolhoof, mnr. Johan Venske, aan die reüniegangers oorhandig.

 

Onder die reüniegangers wat die naweek in Vanderbijlpark deurgebring het, is agter van links: Annaline (van Wyk) van Vreden, prof. Johan Olivier (organiseerder), Charlotte (Claassen) Wessels, Mari (Krige) Burger, Anthony Faul, Adri (van Aswegen) Janse van Vuuren en Isak (Sakkie) van Vuuren. Voor van links is Elna van der Merwe, Minnie (Thompson) Burgers, Madelaine (Nel) Louw, Verona (Pretorius) Eloff, Ria (van Kraayenburg) du Plessis en Santa (Blignaut) Bester.

 

‘n Destydse foto van die matrieks van 1972

 

Prof. Johan Olivier, hooforganiseerder van die 50 jaar reünie.

 

Foto bo: ‘n klompie van die oudmatrieks saam met Transvalia se pom-pommeisies voor die klubhuis.

 

Annaline (van Wyk) van Vreden, ‘n Valia-matrikulant van 1972, by foto’s van Transvalia se legendes, soos die oorlede fietsryer Ertjies Bezuidenhout, wat in dieselfde jaar matriek geskryf het.

 

 

 

 

************************************************************************

 

Back to top button