Local newsNewsNews

Daantjie Kat sou ‘n hartaanval kry – ek het amper!

Moet daar nou eers weer kinders sterf voordat iemand iets gaan doen?

VANDERBIJLPARK. – Kinders van die 80’s het vir Daantjie Kat geken. Hy het ons mooi geleer van regs, links en regs kyk voor jy ‘n pad kruis.

Om die waarheid te sê, ons het basiese padveiligheid al op kleuterskool geleer.

Ek onthou nog die liedjie… “Ek ry met my rooi motorkar en saam my ry my pop. En as ek by die rooilig kom, dan sê hy ek moet stop. Stop sê die rooi lig, ry sê die groen lig, oppas sê die geel lig, oppas wat jy doen.”

Daar was in allegeval padpatrollies en verkeersbeamptes by alle skooluitgange en groot kruisings naby skole.

As jy dalk Daantjie Kat se vriendelike lesse vergeet het, het jy vining gespring as ‘n oom of tannie in uniform die slag op jou gegil het.

Wil vir my lyk asof die kinders vandag nie meer ‘n Daantjie Kat het nie.

Ook nie padpatrollies nie en wat het van die verkeerskonstabels by die kruisings geword waar die kinders moet oor?

Net nou die dag het ons amper ‘n lelike ongeluk vlak voor ons sien gebeur. Dit was by Stephenson SPAR.

Die jongklomp van Hendrik van der Bijl Laerskool het uit die hekke gestroom.

Op die een hoek van Stephenson- en Marconistraat het ‘n ma gestaan en wag om oor te gaan om haar seuntjie aan die anderkant te gaan haal.

Die knapie was egter so opgewonde om sy ma te sien dat hy net begin hardloop het.

Reg voor ‘n motor in wat gelukkig stadig om die draai gekom het en betyds kon stop.

Sy ma, die vrou in die motor en die motorwag het tegelyk op hom gegil.

Hy kon nie verstaan hoekom is almal kwaad vir hom nie. Die res van ons was wit geskrik.

Wat my weer laat vra? Waar is die skole se padpatrollies? Waar is die verkeersbeamptes?

Waar is die mense wat die kinders moet leer om eers regs, link en dan weer regs te kyk alvorens hul oorloop en nie hardloop nie?

 

Back to top button