HealthNews

Virus gee dapper Dawie opnuut ‘n vuishou

En na elke terugslag ontdek hy nuwe talente in homself wat hom die energie gee om vorentoe te gaan

VEREENIGING. – Die Vaaldriehoek is die tuiste van verskeie mense wat al die donker kant van die lewe ervaar het, maar wat keer-op-keer opstaan en ander met hul positiewe lewensuitkyk opbeur.

Dawie du Toit van Vereeniging is een van dié stille helde wat al herhaaldelik deur die lewe platgestamp is. Tog het dié 49-jarige gestremde man na elke terugslag nuwe talente in homself ontdek waarmee hy van vooraf kon woeker.

Dawie het as driejarige kleuter rumatoïde artritis in die ergste graad opgedoen. Dit het inflammasie en styfheid regdeur sy liggaam veroorsaak. Mediese behandeling was destyds nog nie so gevorderd soos vandag nie, met gevolg dat hy erg gestremd gelaat is. Hy was tot in standerd agt (graad 10) in ‘n skool vir gestremdes, maar moes toe ‘n groot rugoperasie kry, wat ‘n totale fusie vanaf sy nek tot by sy stuitjie behels het.

Dawie moes teësinnig aanvaar dat hy nie sou kon teruggaan skool toe nie. Sy weduwee-ma, mev. Rina Malan, het ook nie die finansies gehad om hom privaat te laat leer nie. Sy lewe was daarna vol struikelblokke en Dawie het ook met die wrede buitewêreld kennis gemaak.

“Ek is deur ‘n paar lelike ongelukke en is ook al ‘n paar keer beroof en uit my rolstoel gegooi,” sê hy. Dan was daar ook kere wat hy deur kwajongens in die openbaar verneder is deurdat sy rolstoel weggesleep en weggesteek is. Deur alles het hy sy trots behou en geweet dat hy vir groter dinge in die wieg gelê is. Hy wou ‘n betekenisvolle bydrae in die gemeenskap maak.

“My ma het my eerste rekenaar vir my gekoop, waarop ek begin rondspeel het,” sê hy. Hy het ontdek dat hy ‘n vinnige begrip en talent vir die moderne tegnologie het. Danksy selfhelp-programme het hy homself as ‘n grafiese ontwerper opgelei en het probeer om werk in die formele sektor te kry. Hy het sy CV by meer as 200 sakeondernemings ingedien maar moes elke keer teleurgesteld hoor dat sy aansoek onsuksesvol was.

Weer het Dawie besluit dat as een deur toegaan, hy by ‘n volgende sou aanklop. Hy het met behulp van afstandonderrig begin studeer en sy BA-graad in Christelike berading deur Team Work International (‘n Amerikaanse opleidingsinstituut) sowel as ‘n diploma in natuurlike geneeskunde behaal. Danksy sy studie in vakke soos huweliksberading en die hantering van depressie, tesame met sy eie ervarings as gestremde, kon hy in sy geregistreerde praktyk ‘n simpatieke oor bied aan mense wat voel dat probleme hulle oorweldig.

“Ek is al deur soveel dinge in die lewe dat ek werklik kan connect met enige persoon met probleme. Omdat ek baie uitdagings self moes deurwerk, kan ek ander nou beter help en vertel hoe ek my uitdagings oorkom het. Ek het ‘n gawe in myself ontdek om veral met jongmense op hul eie vlak te kommunikeer. Ons click vinnig en hulle maak maklik oop teenoor my,” sê Dawie.

“Ek wil mense wat emosioneel stukkend is, help gesond maak,” is sy lewensvisie.

Ongelukkig is sy doelwit, om as berader ‘n beter wêreld vir jeugdiges saam met skole en kerke te help skep, tydelik van die baan. Hy moes sy beradingspraktyk tydelik sluit nadat hy vyf maande gelede Covid-19 opgedoen het. Sy gesondheid het sedertdien merkbaar versleg.

“Ek kan nie meer plat lê en slaap nie want dan raak ek benoud en voel of ek versmoor,” sê hy. Die gevolg is dat hy nou snags regop in sy rolstoel moet sit en slaap. Hy het dringend ‘n mediese raam en katrol (hoist) nodig waaraan hy homself kan optrek omdat sy ma, wat reeds 74 is, nie die krag het om hom alleen op te trek nie.

Nog ‘n hulpmiddel op sy wenslys is ‘n mediese bed wat gedeeltelik kan lig sodat hy nie plat op sy rug hoef te lê nie. Enigiemand wat Dawie met ‘n mediese katrol of hospitaalbed kan help, kan hom by 082 576 9286 kontak, of sy ma by 082 410 4161.

Nadat Dawie vyf maande gelede Covid-19 opgedoen het, het hy probleme met sy longe en kan weens asemnood nie meer plat in ‘n bed lê nie. Hy slaap nou snags regop in sy rolstoel.

***********************************************************************************************************

Back to top button