EntertainmentLifestyle

Vier Moedersdag met Helene Bester in Springs met huldeblyk aan Nana Mouskouri

Dit is vir Helene Bester ’n opwindende besluit om hulde te bring aan Nana Mouskouri.

Helene Bester bring in haar produksie, Helene Bester sing Nana Mouskouri, hulde aan hierdie ikoniese Griekse sangeres.

Bester se produksie is onder groot toejuiging by die Oppiwater Kunstefees in 2019 bekendgestel en toer sedertdien die land vol.

Die teks en regie word hanteer deur Frans Swart van Lefra Produksies en musiekregie is te danke aan Heinrich Pelser.

Die produklsie word spesiaal vir Moedersdag (9 Mei) om 12nm by Fabu-leaux in Springs aangebied. Die dag se verrigtinge skop af met ’n driegangmaaltyd om 12nm. Nadat daar heerlik gekuier is, kom die produksie aan die beurt.

Kaartjies beloop R300 per persoon, wat die ete en vertoning insluit. Tafels met 10 sitplekke word ook teen die afslagprys van R2 500 per tafel aangebied.

Helene Bester sing Nana Mouskouri word met die trotse ondersteuning van RSG, Sounds Good, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Renegades Removals, Ambassador Execudrive en Savvy Holdings aangebied.

Also read: RSG en lekker musiek op die ope oseaan

Meer oor die produksie

“Ek het nog altyd daarop gehoop om ’n Nana-vertoning te doen. Ek is mal oor haar stem en ek en my sussie het met haar musiek groot geword,” het Helene vertel.

“Ons het gedink dat sy ’n vriendin is van my ma. My ma en sy lyk so eenders. Tog dink ek dat die tyd nou eers ryp is vir my om die vertoning te doen. Ek glo nie dat ek hierdie musiek so goed sou kon interpreteer 10 jaar terug nie. My stem is ook ouer en klink dalk meer volwasse, wat ek glo meer by haar teikengehoor aanklank vind.

“Ek’t haar musiekvideo’s opgeswot om te kyk hoe sy beweeg op die verhoog, wat sy met haar hande doen en hoe sy ’n gehoor aanspreek. Mens wil dit tog so geloofwaardig moontlik maak.”

Regisseur Frans Swart stem saam: “Toe Helene my oor hierdie projek nader, was ek dadelik opgewonde. Wie dan nou beter as die talentvolle Helene om hulde te bring aan die tydlose en elegante Nana Mouskouri?”

Also read: Sien die beste Afrikaanse musikante by Meat World Musiekfees

So ietsie meer oor Helene

Behalwe sangeres, is Helene by tye liedjieskrywer, stemkunstenaar en televisie-aanbieder. Sy het reeds bekendheid verwerf in Suid-Afrika en Namibië as Afrikaanse sanger.

Sy het die mark in 2002 betree met haar debuutalbum Wens en het sedertdien ses suksesvolle CD’s vrygestel.

In 2004 is Helene ook benoem vir ’n Geraas-toekenning in die kategorie gunsteling vroulike kunstenaar (kontemporêr) vir haar tweede album, Ek hou van jou.

Van die hoogtepunte in haar loopbaan gebeur in 2005, 2006 en 2007 toe sy die voorreg gehad om op te tree tydens Huisgenoot Skouspel.

Haar derde album, Oorgee, word ook in 2007 vrygestel. In 2009 sien die Grootste Treffers van Helene Bester die lig en bied sy ook die program Droomhuis aan.

In 2012 sing Helene en Gerhard Steyn die Huisgenoot Tempotoekennings se wen-liedjie, Nie te laat nie, en stel sy ook haar vyfde album, Tussen die lyne, vry.

In dieselfde jaar word Helene ook genomineer vir ’n Tempo-toekenning as gunsteling vroulike kunstenaar – kontemporêr. In 2013 is sy genomineer as inspirasievrou van die gewilde vrouetydskrif, Finesse, en ook vir ’n Ghoema-toekennning as gunsteling vroulike kunstenaar – kontemporêr.

Helene besluit om in 2016 die kindermark te betree met haar album Helene Bester en Kristi Kat op die plaas, gevolg deur die Kristi Kat videos op YouTube.

Helene en Kristi Kat se gewildheid is steeds geliefd onder die jongspan en sy besoek steeds skole landwyd met die produksie.

Dit was vir Helene ’n opwindende besluit om hulde te bring aan Nana Mouskouri.

“Nana is vandag nog net so gewild, omdat mense van my ouderdom ook na haar musiek geluister het. Ons laat haar musiek voortleef. Sy het 300 miljoen plate verkoop en kan vyf tale praat en sing. Dit maak dat sy in soveel lande superbekend is.”

Follow us on our social media platforms:

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button