As Drome Vlerke Kry

Lefra Produksies nooi almal uit na ’n nostalgiese reis van As Drome Vlerke Kry, wat op 15 Oktober by die Mardi Gras-teater by Carnival City aangebied word.

Dié reis vind plaas in ’n aftree-oord, waar tweewêreldbekende vermaaklikheidskunstenaars die mooi van vervloeë dae in herinnering roep.

Arina de Witt, speel die rol van Aria von Waltzleben, alias Fanny Galore, wat van Ariamsvlei afkomstig is, ’n ster van die sestigerjare in Las Vegas, ’n geesgenoot van Maria Callas en Edith Piaf.

Daarenteen is Egbertus Wolmarans, gespeel deur Hennie Smit, boorling van Swartland, ’n onderwyser van Ariamsvlei, ’n beroemde vermaaklikheidster en akteur wie se hartsnare nog al die jare roer vir Aria.

Die konsert kan nie sonder dié twee plaasvind nie, en die aftree-oord is in rep en roer om alles reg te kry vir die verhoog.

Produksie regisseur Frans Swart is baie opgewonde oor die produksie.

Hy sê hierdie stuk is spesiaal vir Hennie en Arina geskryf.

“Dit is ’n roerende toneel van oudword en om steeds jou rol in die lewe te speel,” verduidelik Frans.

Die storie is uniek met fantastiese verhoogtalent en Frans glo dat hierdie beslis een van die groot treffers van die jaar sal wees.

“Hierdie vertel-en-musiekteater los jou met ’n lag en ’n traan en die besef dat jy is, wie jy gebore is om te wees, wanneer jou “drome vlerke kry”, sê Frans.

Exit mobile version