Lekkerlag klug nog op die planke

Moenie uitstel om die Lefra Produksie Daa’ Gaat die Bruid! by die Mardi Gras-teater by Carnival City te gaan kyk nie aangesien dit nog net tot Sondag aangebied word.

Daa’ Gaat die Bruid! spog met top akteurs insluitend Ana van Achterbergh, Cobus Venter, Debrè Rossouw, Edrien Erasmus, Gert van Tonder, Lieb Bester, Marga van Rooy en Phillru van Achterbergh.

Springs se eie Frans Swart hanteer weer die regie van hierdie puik produksie.

Teatergangers deel in Judy (Debrè Rossouw) se troue waar almal in die oggend in rep en roer is om alles in gereedheid te bring vir die troue, maar dan slaan die klug toe.

Terwyl Judy en haar ma, Ursula (Edrien Erasmus), gereed maak om kerk toe te vertrek, kry haar pa Malan (Cobus Venter), die uitvoerende hoof van ’n advertensiemaatskappy, ’n hou teen die kop wat die poppe behoorlik laat dans.

Polly (Ana van Achterbergh), ’n pragtige cut-out meisie van een van sy advertensieveldtogte, word lewendig, maar slegs Malan kan haar sien.

Voeg ’n vuurvreter ouma (Marga van Rooy), ’n moeilike oupa (Lieb Bester), ’n verdwaalde skoonpa (Gert van Tonder), ’n flambojante assistent (Phillru van Achterbergh) en ’n deur of drie saam, en jy beskik oor al die lekkerlag elemente van nog ’n histeriese Lefra-klug.

Kaartjies vir Daa’ Gat die Bruid is beskikbaar by Computicket.

Exit mobile version