Tandlose bekkies gesoek vir rol in produksie

Lefra Produksies is opsoek na drie haasbekkie seuns wat hul verskyning binnekort in 'n video vir Groet die Grotheld sal maak.

Oudisies sal eersdaags gehou word vir die drie haasbekkies wat tussen die ouderdom van vyf en sewe moet wees.

Frans Swart van Lefra Produksies, sê die kannetjies sal ‘n kardinale rol in dié produksie speel.

Hy noem dat geen drama ondervinding nodig is nie, maar indien die seuns al ‘n gediggie of versie by ‘n kunswedstryd opgesê het of voor hule klasmaats opgetree het, sal dit in hul guns tel.

“Die belangrikste is dat die seuns nie skaam moet wees om voor ‘n kamera te verskyn nie,” sê Frans wat ook die regie hanteer.

Groet die Grotheld is ‘n splinternuwe komiese verhoog produksie uit Frans se pen met die komiese akteur, Cobus Venter as die grotheld.

‘n Pa is gewoonlik sy seun se grootste held veral as hy nog ‘n Blou Bul is en gereeld sy seun Loftus toe neem.

“Dis presies wat ons met hierdie opnames wil illustreer – my pa is my held,” sê Frans.

Video opnames van die seuns sal gemaak word wat in die produksie gespeel gaan word daarom sal dit nie nodig wees dat die drie haasbekkies hoef saam te toer nie.

Belangstellende ouers kan ‘n kort CV en foto e-pos na admin@lefra.com waarna ouers verwittig sal word van die oudisie datums.

Nie alle seuns sal genooi word vir ‘n oudisie nie.

Vir meer inligting, skakel Monica Booysen of Charl Senekal by 011 815 3000.

Die produksie sal by die Oppiwater Kunstefees gesien word van 1 tot 6 Mei.

Exit mobile version