Digbundel ‘n eerste vir Elza

'n Natuurliefhebber skryf gedigte.

Met haar eerste digbundel Neem my Terug in haar hand, het Elza Coetzee-Johnson se droom waar geword.

“Neem my na ‘n plek van son en drome…” is ‘n aanhaling van haar titel gedig wat vrygestel is tydens ‘n onlangse gala geleentheid wat in Brackenfell in die Kaap plaasgevind het.

Daar was om en by 160 gaste, en skadu minister van kuns en kultuur Dr Allen Grootboom het haar sertifikaat oorhandig.

Hierdie bundel se naam is gefokus op een van haar gedigte wat vir die eerste gepubliseer is.

Niks kan kersvashou met hoe sy voel om haar eie digbundel te besit nie.

Dié bundel is opgedeel in emosionele en natuur gedigte, so paar kinder gedigte en dan ‘n spesiale deel wat opgedra is aan haar kleinseun, Dylan Pretorius, wat in 2001 oorlede is.

Elza, wat tans woonagtig is in Aston Lake, skryf al vandat sy kan onthou.

Digkuns is ‘n kanaal waardeur sy haar emosies en liefde vir die natuur kan weergee.

“Ek het gediggies opgemaak voordat ek nog kon lees of skryf,” sê sy.

Wanneer Elza gesels oor haar gedigte kom haar liefde vir die natuur na vore.

Sy skryf verskillende gedigte waar sy natuur laat lewe en mense se stories in gedigte omskep.

Haar man Ronnie Johnson vertel met trots dat sy vrou se droom waar geword het.

“Haar droom was om haar eie bundel in haar hand te hou en nou het dit vir haar waar geword,” sê hy.

Alhoewel Ronnie Engels-sprekend is, is Elza trots om in Afrikaans te skryf.

Sy was verlede jaar die hoof beoordeellaar van die Afrikaanse gedigte by die skole “Poetry Slam”.

Dit was ‘n wonderlike ondervinding vir Elza.

Sy is nogsteeds deel van ‘n digters-ondersteuningsgroep waar lede een keer per maand bymekaar kom om hul werke voor te lees, te bespreek en positiewe kritiek lewer.

As ‘n natuurliefhebber, bly sy op ‘n kleinhoewe waar sy vrylik kan rondbeweeg en na aan die natuur voel.

“Dit voel nog onwerklik as ek na my bundel kyk, maar die droom is ‘n werklikheid,” sê sy.

Exit mobile version