Editor's choiceEntertainmentLifestyle

Khumba animasie film

Frans Swart speel die rol van Sakkie, die Springbok, in die Suid-Afrikaanse animasierolprent, Khumba.

“Fliekgangers gaan vir die eerste keer die geleentheid kry om ‘n driedimensionele animasieprent in Afrikaans te sien,” spog Frans.

Hy vertel dat die Springsbokke in die film eintlik die “show” steel, maar die storie gaan eintlik oor die sebra wat oor sy strepe wonder.

Khumba speel af in die Karoo en vertel die storie van ‘n sebra wat net met die helfte van sy strepe gebore word.

Sy bygelowige trop glo dat die droogte wat die land getref het Khumba se skuld is.

Khumba gaan dan op ‘n avontuur, op soek na ‘n bonatuurlike watergat om die res van sy strepe te kry.

Hoewel die rolprent aanvanklik met internasionale akteurs soos Jake T Austin en Liam Neeson opgeneem is, is daar besluit om die animasieprent ook in Afrikaans vry te stel.

Onder die regie van Bettie Kemp, vertolk die Afrikaanse komediant, Hannes Brummer, die rol van Khumba.

“Ek is vreeslik trots op hierdie rolprent – veral omdat dit in Suid-Afrika vervaardig is,” sê Frans.

Hy vertel dat toe hulle aan sy gedeelte van die rolprent begin werk het, het hy verstom gestaan oor die kwaliteit van die anomasie, wat op Hollywood standaard is.

Frans voeg by dat hy dit vreeslik geniet het om die rol van die fris Springsok Sakkie te speel, en vertel tong in die kies hy is nie seker of Bettie Kemp, wat die regie van die film waargeneem het, hom genader het vir sy stem of vir sy lyf nie.

In die rolprent word daar vreeslik baie gespot met die Suid-Afrikaanse rugbykultuur en Frans sê dat dit vir hom louter lekkerkry was; inteendeel, hy wil homself verstout deur te se dat dié Afrikaanse film dalk ‘n bietjie meer humor as sy Engelse eweknie bevat.

“Wat hierdie een nice maak, is dat dit ‘n eg Afrika storie is, wat deur Suid-Afrikaners vertel word,” spog Frans.

Alhoewel hy lanklaas oorklanking gedoen het, het dit hom nie lank geneem om die oorklanking baas te raak nie, al het tegnologie so baie verander sedert hy dit laas gedoen het.

“Dit was wonderlik om saam met Bettie te werk; sy is ‘n ongelooflike regiseur,” sê hy.

“Haar “directing” is so goed, en sy ken haar spelers net so goed. Sy druk jou nooit in ‘n blik nie.”

Die oorklanking vir die film in geheel het omtrent twee weke geneem, maar volgens Frans het Sakkie se oorklanking net ‘n dag geneem.

Frans is dit eens: hy sal beslis weer so iets aanpak, want hy glo opreg Khumba gaan baie goed doen.

“Die film word wêreldwyd uitgereik, wat dit baie besonder maak,” vertel hy.

Opgewonde oor die film, vertel Frans van ‘n toneel waar die miere in die Karoo oor die pad loop, waar daar selfs ‘n “pothole” in die pad is.

“Dit is so eg Suid-Afrikaans dat die buitelanders nie sal verstaan nie,” spog hy.

Volgens hom is die film vir die kinders gemaak, maar daar is ook baie humor in vir die grootmense, so ouers wat hulle kinders vat om die film te sien gaan dit net so geniet.

“Khumba word gesamentlik in Engels en Afrikaans uitgereik,” se Frans.

Nie net word Frans geken in oorklankings nie, maar hy speel gereeld in radiodramas en is ook ‘n bekende omroeper op Oos-Rand Stereo. Hy het ook vanjaar die ATKV Veertjie Mediaprys gewen, as beste omroeper by ‘n gemeenskapsradiostasie in SA.

Om te dink hier, uit Suid-Afrika, kom ‘n volle rolprent wat ‘n goeie uur en ‘n half van vermaak bied, met al hierdie wonderlike eg Suid-Afrikaanse karakters. Dit is iets om na uit te sien.

Khumba word tans in 40 teaters landwyd vrygestel.

Triggerfish Animation Studios is in Kaapstad gebaseer en Khumba is die tweede rolprent wat dié maatskappy vervaardig, nadat hulle verlede jaar Adventures in Zambezia vrygestel het.

Related Articles

Back to top button