Jukskei seisoen begin

Die jukskei seisoen het Saterdag op ’n hoë noot afgeskop by die Springs jukskeibane.

Klubs het die warm dag aangedurf met vele skeie wat geval het om die klublede weer in oefening te kry vir die seisoen wat voorlê.

Die seisoen begin in Augustus tot net voor Kersfees en open dan weer vroeg in Januarie tot en met Mei maand.

Rassie Ras, voorsitter van die Springs Jukskeiklub sê al die klubs is opgewonde oor wat die nuwe seisoen inhou.

“Die liga begin in Oktober en die meesterkeuring vind binnekort plaas,” sê hy.

Alhoewel daar geen plaaslike klublede Saterdag deelgeneem het nie, het die res van die Nigel, Boksburg, Impala, Avion Park en Kemptonpark spelers hul gate uit geniet.

Die Springs Jukskeiklub het gasheer gespeel en die braaivleis vuur vroegdag aangesteek om die wors en ribbetjie te braai vir diegene wat ’n wors- of ribrol wou koop.

Rassie vertel dat almal bymekaar kom vir meesterkeuring en daaruit word die Oos-Gauteng jukskeispan gekies wat dan Oos-Gauteng sal verteenwoordig by die klub kampioenskappe.

“Om jukskei te speel verbeter ’n mens se hand en oog koördinasie,” sê Rassie.

Hy vergelyk jukskei met skaak, want in albei sportsoorte word die volgende skuif vooraf bepaal.

“Dit,” sê Rassie, “verg tegniek”.

Die toerusting wat benodig word vir hierdié sportsoort is twee skeie en ’n pen.

Rassie sê die punte werk op ’n eliminasie basis en die skeie word in ’n sandput gegooi oor ’n vasgestelde afstand.

Elke speler probeer om die pen raak te gooi en om die punte te bepaal word die skei naaste aan die pen, wat een punt verdien, in berekening gebring. Die hoofdoel van jukskei is om 23 punte in te win.

“Uit die aard van die saak is die speler met die meeste punte dan die wenner van die dag se spel,” verduidelik Rassie.

Hy sê dat die klub afrigters het wat beginners sal help om die sport te bemeester.

Beginners wat belangstel om jukskei ’n probeerslag te gee, kan Rassie kontak by 082 597 2331.

Connect with us:

Have a story? Send Anna Robertson an email on annar@caxton.co.za or contact her on 011 812 4820.

Like our Facebook page and follow us on Twitter as well as our journalists @SpringsJournOne and @SpringsJournTwo.

For news straight to your phone, invite us on BBM – 7EFABEF1.

Exit mobile version