Hardloop vir Bybels

Hierdie is 'n heeljaar-projek vir marathon-atlete

Hardloop vir Bybels gee aan atlete die geleentheid om nie net vir die jaarlikse Comrades Marathon, maar ook vir die marathon van hul keuse, vir Bybels te hardloop.

Omdat Comrades-atlete en hulle ondersteuners die projek vir 24 jaar so geesdriftig ondersteun het, het die Bybelgenootskap besluit om die Hardloop vir Bybels-projek op hierdie manier uit te brei.

Atlete wat aan hierdie projek deelneem, word per kilometer geborg. Elke R40 wat so ingesamel word, help die Bybelgenootskap om ‘n bekostigbare Bybel beskikbaar te stel.

Die Bybelgenootskap wend die fondse wat deur die ‘Hardloop vir Bybels’-projek ingesamel word aan om in spesifieke Bybelbehoeftes te voorsien en om dit vir duisende mense moontlik te maak om ‘n Bybel te bekom.

Die genootskap voorsien reeds vir 194 jaar Bybels in Suid-Afrika. Hierdie taak sluit in die vertaling en produksie van die Bybel, asook die verspreiding daarvan onder alle Suid-Afrikaners.

Een van hul projekte is om vanjaar gratis Bybels ten bedrae van R800 000 vir gevanges te bewillig, asook om Bybels, ten bedrae van R700 000, gratis op ‘n verantwoordelike manier beskikbaar te stel aan die armstes van armes en gratis Bybels ter waarde van R1 000 000 beskikbaar te stel aan graad sewe-leerders in skole in die armste dele van die land.

Hulle wil ook Bybelgebaseerde geletterdheidsmateriaal, basiese geletterdheid, asook Bybelgeletterdheid onder alle ouderdomsgroepe bevorder; ‘n Bybelvertaling in hedendaagse isiZulu beskikbaarstel asook een in doofgerigte Engels in Suid-Afrika en in Afrika vir dowes wat die Bybel in Engels gebruik.

Die genootskap beywer ook om ‘n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, Bybelstudie en persoonlike gebruik, beskikbaar te stel. Asook om Bybelvertalings van hoë gehalte in Suider-Afrika te verseker. en om die Bybelgenootskappe in Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland te help met hulle taak om Bybels te voorsien en om miljoene Christene in China, veral diegene op die platteland, te help om ‘n bekostigbare Bybel te kan koop en ook om gratis Bybels te verskaf aan diegene wat dit glad nie kan beskostig nie.

Sonder die ondersteuning van die Bybelgenootskap se donateurs, soos die atlete, is dit nie moontlik om hul taak om bekostigbare Bybels beskikbaar te stel, uit te voer nie.

Atlete wat aan die ‘Hardloop vir Bybels’-projek wil deelneem, ongeag die wedloop, word versoek om die Bybelgenootskap se webwerf by www.bybelgenootskap.co.za te besoek of die Bybelgenootskap telefonies te kontak. Kontak Pastoor George Thompson of Marina Stebbing by stebbing@biblesociety.co.za of by 011 970 4010.

Enige een wat ‘n direkte inbetaling wil maak, kan dit doen in dié rekening: Absa Kemptonpark, rekening nommer 260 220 748 en takkode 632005.

Faks die inbetalingstrokie aan 011 970 2506 vir aandag Marina Stebbing.

Exit mobile version