BlogsOpinion

Tel jou seëninge hierdie Kersfees

Kersfees is 'n tyd van samesyn, omgee en liefde.

Spieëltjie spieëltjie ek het nuus vir jou, die jaar is amper verby en voordat jy dit weet is 2018 hier.

My Kersboom is nog nie eers opgesit nie.

Hoe graag sou ek nie ‘n regte Kersboom wou gehad het nie; nie een wat uit ‘n boks kom nie, maar een wat my huis na regte denne sal laat ruik.

Daar is soveel nuwerwetse idees vir handgemaakte items om aan die boom te hang of selfs die huis te versier, genoeg om van te kies en te keur.

Maar my tyd raak min en ek sal vinnig aan die werk moet spring.

Die huise oral in Springs is pragtig met die mooiste sprankelende Kersliggies versier om ‘n gevoel van feestelikheid in ons almal aan te wakker.

Daar is ‘n opwindende atmosfeer in die lug en die gees van Kersfees word gesien op al die glimlaggende gesigte van die kinders wat opgewonde raak sodra hulle ‘n Kersvader in ‘n winkelsentrum raakloop.

Ons is besig om die laaste werk vir die laaste Addie-uitgawe vir die jaar af te handel, in afwagting vir ‘n welverdiende breek, terwyl sommige van ons reeds ‘n ontspanne vakansie aan die kus geniet.

Die Kersseisoen het uiteindelik aangebreek en ons kan nie wag om Kersdag met familie of vriende te geniet nie.

Die opwinding van die oopmaak van geskenke, lag en gesels oor ‘n heerlike Kersete, koud of warm, en vir die Christene om met dankbaarheid gevul te word oor die geboorte van Jesus.

Vir diegene wat nie in Christus glo nie, geniet die feesseisoen, familietyd en ontspan lekker.

Wel, ten minste gaan sommige van ons ‘n heerlike Kersseisoen tegemoet.

Verlede naweek het ek gesien hoe honderde minderbevoorregte gesinne van kospakkies voorsien is en die kinders geskenke ontvang.

Dalk hul enigste vir die jaar, terwyl ander gesinne dalk nie ‘n ordentlike Kersmaaltyd vir hulle gesinne sal kan voorberei nie.

Na vele nabetragting dink ek aan die jaar wat verby is en dit is waar my hart in flarde geskeur word, vir die oumense vir wie ek so lief is.

Markville woonstelblok se inwoners sukkel al vir twee jaar sonder ‘n hysbak.

Hoeveel van hierdie pyn en leiding moet hulle nog verduur?

Sommige van hulle moet 10 stelle trappe klim tot op die vyfde verdieping en dan nog met hul kruideniersware daarby is dit soms twee of drie keer na mekaar.

Ai hoe bloei my hart nie vir julle nie.

Die haweloses wat twee tot drie keer per week hul enigste maaltyd by ‘n sopkombuis ontvang, kry dalk niks op Kersdag nie.

Hulle sal dan maar vir hul porsie feesmaal moet aanhou bedel.

Ina McDonald van Operation Snowdrop het aan soveel senior inwoners kruidenierspakkies verskaf.

Die vreugde op hierdie mense se gesigte en die dankbaarheid vir iemand wat nog omgee spreek boekdele.

Dan is daar die twee jong dames wat in ernstige motorongelukke betrokke was.

Sekerlik is daar meer as wat ons aan kan dink, maar die twee lê my na aan die hart.

Anzel Bouwer, slegs 23 jaar oud, het onlangs veelvuldige ernstige beserings in Zig Zagweg opgedoen, terwyl Lea-Anne Ras (20) in September ‘n noue ontkoming gehad toe haar Ford Ka teen ‘n minibus taxi gebots het.

Genadiglik is sy intussen ontslaan, maar sy ontvang nogsteeds berading.

Hoe kort is die lewe nie …

Dan het ek ‘n dierbare vriendin wat onlans met kanker gediagnoseer is.

Sy het klaar haar radiasie program agter die rug en het nog net een sessie van drie chemoterapie gehad.

In Januarie, terwyl die res van ons voornemens maak en uitsien na ‘n nuwe begin, staar sy nog vele chemo sessies in die gesig.

Terwyl ek van hierdie geleentheid gebruik maak om die wonderlike Springs inwoners en besigheidsmanne en vroue te bedank wat bydraes gemaak het om pleegsorghuise met duur mediese, elektrisiteitsrekeninge of huur te help, sowel as minderbevoorregte gesinne met kruideniersware, vra ek ook diegene van julle wat nog nie gehelp het nie om julle harte oop te maak vir diegene daarbuite wat nie so bevoorreg soos ons is nie.

Wanneer jy ‘n wegneemete koop, koop iets ekstra vir die persoon wat op die straathoek staan en bedel.

Dit sal jou verstom om te sien hoe dankbaar hulle die kos ontvang en hoe vinnig hulle die welkome kospakkie verslind.

Spandeer jou Kersfees met die wete dat jy ten minste een persoon in nood gehelp het en ek kan jou verseker dat jy ‘n baie gelukkiger Kersfees as ooit tevore tegemoet sal gaan.

Dit moet gesien word as ‘n voorreg om jou medemens te help, maar dit is ook ons plig.

Tiek tok my tyd raak min.

Hierdie horlosie loop te vinnig na my wens, want terwyl ander reeds hul Kersinkopietog agter die rug het, is ek nog ernstig na die geskikte en gepaste Kersgeskenke op soek.

Ja reg geraai, ek koop gewoonlik ‘n geskenk wat ek dink by daardie persoon sal pas of wat hulle kan gebruik.

Namens myself groet ek julle vir ‘n laaste keer en wens ek al ons lesers ‘n geseënde Kersfees en ‘n gelukkige Nuwejaar toe.

Ek moedig julle aan om julle seëninge, een vir een, te tel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button