‘n Tyd om dankie en totsiens te sê

Ek kan nie glo ons is al naby die einde van 2017 nie.

Dit voel vir my of ek net hier en daar grond vat en of alles net te vinnig gebeur.

Ek weet nie van julle nie, maar selfs die wete dat Kersfees om die draai is, is angswekkend

Aan die begin van elke jaar is daar soveel hoop vir dit wat die nuwe jaar mag inhou.

Moeilike besluite wat geneem moet word, kinders wat vir die eerste keer skool toe gaan of dalk die eerste dag by ‘n nuwe werk.

Vir bykans 13 jaar van my lewe het ek by die Addie gewerk. Eers as redaksionele assistent en toe as joernalis vir die afgelope vyf jaar.

Ek het geen idee gehad waarvoor ek my inlaat toe ek op 8 Maart 2005 aangestel is nie, en het geen kennis van die koerantwese gehad nie.

Eienaardig genoeg was ek ‘n introvert, skaam en teruggetrokke wat nooit met vreemde mense sou praat nie. Iemand wat altyd eers die kat uit die boom sou kyk.

Maar my eerste redakteur, Cathy Grosvenor, het gedink ek het potensiaal en sy het my deel van die joernaliste groep gemaak en stadig maar seker het ek begin ontdooi.

Soos tyd aangestap het, het ek geleer dat ‘n sagte woord die grimmigheid afkeer en kon ek met gemak en tot voordeel van die redaksie die moeilike kliënte hanteer.

Lees ook: Sad but binding read

Deur hierdie dame se leiding en haar rustige geaardheid het my swak selfbeeld gou verander in ‘n dinamiese selfversekerde persoon.

As gevolg van my deursettingsvermoë om meer te leer het ek na sewe jaar die geleentheid gekry om as joernalis aangestel te word om die Afrikaanse artikels van die koerant te hanteer.

Ek het baie foute gemaak en was ongelooflik senuagtig, maar tog vreemd opgewonde.

So onthou ek my eerste onderhoud met ‘n jong onderwyseres van Bakerton wat ‘n skoonheidstitel gewen het.

Groot was my opgewondenheid toe my eerste artikel in die koerant verskyn en dit het my gedryf tot groter en meer gekompliseerde artikels, selfs in Engels.

My huidige redakteur, Samantha Keogh, het my goed begin touwys maak en spoedig het misdaadverslaggewing deel van my werk geword en dit was, om die minste te sê, ‘n verdere uitdaging vir my.

Soms het ek slagoffers onder minder aangename omstandighede ontmoet wat deel van die misdaadstatistiek geword het.

Maar dan was daar die ander mense, dié wat so spesiaal geword het, dat hulle ‘n onuitwisbare deel van my lewe geword het en ek altyd in my hart sal bewaar.

Vir hierdie mense het ek ‘n baie hoë agting.

Oor die foute wat ek gemaak het is ek baie spyt, maar gelukkig leer ‘n mens deur jou foute.

Maar ek was inderdaad net Anna Robertson, die joernalis, en is nog baie trots daarop, maar ek moes egter ‘n groot besluit oor my toekoms neem.

Ek moes besluit of ek nog ‘n paar jaar gaan deurdruk voor ek aftree, nege jaar om presies te wees, en of ek my joernalistieke loopbaan vaarwel gaan roep.

Dit was inderdaad nie ‘n maklike besluit nie, maar dit was tyd om met ‘n nuwe loopbaan te begin.

Ek is die geleentheid gebied om my eie besigheid te begin en het besluit om dié geleentheid aan te gryp, en sien daarna uit om my eie baas te wees.

‘n Geweldige groot uitdaging wat voorlê met vele ysters in die vuur.

My lewe is die afgelope paar jaar daagliks, en selfs sommige naweke, deur ander mense beplan.

Dit alles omdat daar soveel kollegas gekom en gegaan het, te veel om op te noem.

Spertye wat bereik moes word en Jan Publiek wat nie altyd verstaan het nie, lang ure weg van jou gesin, familie.

Dit het veroorsaak dat ek soms familiegeleenthede soos troues, doopgeleenthede, verjaarsdae, selfs begrafnisse van mense wat vir jare deel van jou lewe was, moes misloop.

Skielik het ek my egter bevind in ‘n oorgangsperiode waar ek my prioriteite in oënskou neem en moes ontdek waarop ek my identiteit gebou het.

Ek moes die vraag beantwoord wie is die ware ek, waarheen is ek oppad en wie speel die belangrikste rol in my lewe.

Wat ek egter vas oortuig van is, is dat God net die beste vir ons wil hê, daarom het ek besluit om Hom in al my besluite te ken.

Hierdie was die belangrikste besluit van my lewe, want ons gaan deur seisoene en my seisoen by die koerant staan einde se kant toe.

My laaste dag sal op 22 Desember aanbreek en daarom sê ek dan totsiens aan almal wat ek nie andersins sal kan groet nie.

My feesseisoen gaan nie onderbreek word met hospitaalbesoeke om Kers- en Nuwejaarsbabas af te neem terwyl my familie Kersdag op my wag voordat ons geskenke uitdeel nie.

Is ek vreemd opgewonde oor my toekoms? Definitief.

Is ek hartseer om afskeid te neem van my kollegas en die wonderlike mense met wie ek so ‘n lang pad gestap het? Ja, definitief.

Maar ‘n blink nuwe toekoms wag vir my, met nuwe uitdagings, en met die duidelikheid en rustigheid wat die Here my bied oor nuwe doelwitte en die planne vir 2018, en dit gee my baie meer vertroue.

Aan elkeen wat deel van my amper 13-jaar ‘journey’ by die koerant was, baie dankie en mag die onverdiende goedheid en vrede van ons hemelse Vader met julle wees.

Exit mobile version