BlogsOpinion

Jy is waardig

Moet nooit toelaat dat iemand jou waarde geringskat nie.

Baie mense loop met ’n minderwaardighiedskompleks rond wat hulle tot aan die einde van hulle lewe met hul saamdra.

Dan is daar ons liewe selfbeeld, nie net van binne nie, maar ook van buite.

Familie gelaatstrekke wat ons laat wens dit was anders; ons liggaamsbou wat nie is soos ons graag sou wou hê nie .

Die media help ook nie juis om ons selfbeeld te bevorder nie, want ons kyk gedurig in celebrities of modelle vas wat ons nog meer in ons selfbeed skilpaddop laat kruip.

Alles natuurlik onnodig, want elkeen van ons is uniek geskape.

Selfs wanneer ons tussen ’n groep mense is voel ons soms so minderwaardig omdat ons onsself vergelyk met ander mense.

Die keuses wat ons maak het ’n deurslaggewende invloed oor hoe ons onsself sien.

Dr SJ Potgieter het die volgende oor minderwaardigheid gesê:

“Gebeure in die kinderjare.

“Wanneer mense kwetsende opmerkings maak kan dit letsels inbrand op die brose gemoed van ’n kind.

“Opmerkings soos: Kyk hoe presteer jou suster, wat is fout met jou, jy is ’n teleurstelling of jy sal nêrens in die lewe kom nie.”

Meeste mense ervaar een of ander tyd in hul lewe gevoelens van minderwaardigheid.

Dan vergelyk jy jou met ander mense en voel nie goed oor jouself nie.

Jy ervaar ’n fisiese tekortkoming of ’n gebrek wat jou laat voel jy is ’n lelike eendjie, tande wat skeef is, te veel sproete of jy lispel of hakkel.

Selfs jou sosio-ekonomiese omstandighede waaroor jy skaam is dra daartoe by.

Dalk het jy arm grootgeword, het in ’n armer deel van die dorp gewoon, of jou pa of ma se beroep is minderwaardig teenoor jou maats se ouers s’n.

Jy begin jouself vergelyk met ander en jy voel minderwaardig ten opsigte van jou sukses en prestasies, beroep, inkomste, motor en woonbuurt.

’n Lae selfbeeld en min eie-waarde kan jou ook van jou waardigheid ontneem.

Negatiewe kritiek kan as ’n persoonlike aanval beskou word.

Dalk blameer jy ander vir foute en mislukkings wat jy maak.

Jou onwaardigheid veroorsaak dat jy hiper krities op mense is en hulle prestasies en optrede afkraak.

Nog ’n ernstige probleem wat kan bydra tot jou minderwaardigheid is wanneer jy heeltyd vis vir goedkeuring en erkenning omdat jy voel die wêreld is teen jou en mense gun jou niks.

Wees altyd jouself en onthou jy is waardig: mense wat nie van jou hou nie, gaan in elk geval nie van jou hou nie wat jy ookal doen.

Maak dus vrede daarmee.

Konsentreer op jou sterk punte en talente en ontwikkel jouself in lewensfasette waar jy ’n tekortkoming voel.

Omring jou met positiewe mense en met ’n netwerk van vriende en familie wat lief is en omgee vir jou.

Staan op teen jou vrese en pak dit aan.

Toe ek hieroor sit en nadink het ek net weer eens tot die besef gekom dat ons eintlik geskape is na die beeld van ons Skepper en dat ons eintlik waardig in Sy oë is.

Daar is geen duplikaat nie, selfs nie eers by ’n identiese tweeling nie.

My boodskap aan elkeen is duidelik: jy kan dit oorwin, jou kop optel en ’n vreugdevolle lewe ervaar.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button