BlogsOpinion

Ma-wees is wonderlik

Namate ek ouer geword het, en nog belangriker, toe ek 'n ma geword het, het ek self die ware betekenis van ma-wees gevind.

Ek het altyd geweet dit maak nie saak wat nodig was nie, my ma sal altyd vir my daar wees.

Sy is die een wat my broers en susters, en my doeke omgeruil het.

Selfs met ‘n blik of net deur na haar stem te luister het ons geweet in watter bui sy is.

Sy was nie een om baie vrae te vra nie, maar sy het ook presies geweet watter gemoedstemming al haar kinders beleef.

Sonder om enige vrae te vra, het ons geweet dat sy daar was vir ons wanneer ons die behoefte gehad het om te deel wat ons pla.

Om ‘n ma te wees het eintlik baie min te doen met die feit dat sy geboorte aan haar kinders gegee het.

Dit kan die mees voor die hand liggende scenario wees, maar moederskap het ‘n dieper betekenis.

Hierdie vrouens was ons beskermers, hulle het ons gedissiplineer, maar was ook ons vriendinne.

Hulle het soveel beleef en deurgemaak saam met ons.

Selfs hul skooljare herleef, graad na graad, middae opgeoffer vir huiswerk doen saam met ons en die spanning van die eksamen saam met ons gedeel.

Ja, hulle het selfs trane saam met ons gestort toe ons harte gebreek was en ook die hoogte- en laagte punte van ons lewe gedeel.

Maar so gaan die tyd verby, en ons gaan universiteit toe, kry ‘n werk, trou (nie noodwendig in dieselfde volgorde nie, maar binne ‘n kwessie van tyd, vertolk ons presies dieselfde rol as ons moeders.

Die probleem is, tyd begin ‘n faktor raak en soos die kinders groter word, word ons vasgevang in ‘n maalkolk van bedrywighede en voor ons ons oë uitvee, is daar nie meer tyd om aan hierdie vroue aandag te gee nie.

Miskien is van ons moeders in ‘n situasie waar hulle afhanklik is van hulle kinders, nie net vir aandag nie, maar versorging sowel as vervoer.

Maar die tyd haal ons in en voor jy weet is ons vasgevang in allerlei verskonings wat ons weerhou om by hulle uit te kom.

“Jammer ma, die seuns speel vanmiddag rugby of die dogters het die een of ander buitemuurse aktiwiteit.”

Naweke is ons net te moeg en ons moet meer tyd spandeer met ons familie wat ons moeders uitsluit.

Wanneer jou gewete jou begin pla omdat jy lanklaas ‘n oproep gemaak het of ‘n boodskap gestuur het, is dit dalk te laat.

Die tyd wat moeders met hulle kinders bestee is een van die kosbaarste oomblikke op aarde.

Dit is nou naas die tyd wat ons met ons Skepper spandeer.

Sodra jy agterkom die tyd haal jou in, onthou dan presies dit wat jy opoffer vir jou kinders, is wat sy opgeoffer het vir jou.

Maak haar deel van jou gesin, sy is immers jou ma en jou kinders se ouma.

Oumas kan van kardinale belang word of albei ouers nou werk of nie.

Dit gee hulle die geleentheid om meer tyd met die kleinkinders te spandeer.

Hierdie gebaar laat oumas voel of hulle nog iets vir die samelewing beteken en selfs vir hulle kinders.

Moenie dink hulle is in die pad nie, nee, betrek hulle by sekere geleenthede, want dit is juis hulle wat jou gebring het tot waar jy is vandag.

Die voorbeeld wat hulle gestel het, is presies wat van toepassing sal word wanneer dit jou beurt is om ‘n ouma te word.

Die kringloop van die lewe bring ons elkeen op ‘n plek waar ons nabetragting moet doen van hoe belangrik ons moeders vir ons was en of hulle nogsteeds vir ons belangrik is.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button