Verminderde spoedgrense binnekort ‘n werklikheid

Daar wag binnekort dalk ‘n groot verrassing op alle wettige eienaars van bestuurslisensies.

Dit is nou vir dié wat hulle glad nie steur aan die spoedgrens van 60km/h binne bewoonde gebiede, dorpe of stede en die 120km/h grens op die snelweë nie.

Jip, julle het reg gehoor, die spoedgrens gaan dalk na 40km/h verminder word in bewoonde gebiede, 100km/h verminder na 80km/h op die platteland en die snelweë wat deur ‘n woongebied gaan se spoedgrens verminder vanaf 120km/h na 100km/h.

In die Kaapprovinsie is die spoed in bewoonde gebiede reeds verminder na 20km/h.

Die impak wat dit gaan hê op die munisipaliteite is nog onbekend.

Nogal ‘n gedoente wat wag is dit nie?

Dalk sal daar meer beskikbare polisiëring op die paaie ontplooi word om die nuwe wet toe te pas.

Daar is munisipale begrotings wat aangepas moet word vir die vervanging van die ou spoedgrens borde en padtekens.

Daar is selfs sprake van die her-evaluering van die K53 bestuurderstoets.

Vele veranderinge wat wag, indien hierdie nuwe wet intree.

Hoe motoriste gaan reageer om elke vyf jaar, tydens die hernuwing van hul bestuurderlisensies, heraansoek te doen vir die skryf van hul leerlinglisensies en om ook weer hul bestuursvermoë te toets, is ‘n ander vraag.

Dit voel dalk soos eeue gelede wat jy die eerste afspraak gemaak het vir jou leerlinglisensie en hard geleer het om al die padtekens en hul betekenis onder die knie te kry.

Maar veranderinge wag op ons almal en ons moet ons solank geestelik en emotioneel voorberei daarvoor.

As jy dink aan die hoeveelheid padtekens wat oor die afgelope 30 jaar verander het en aangeleer gaan moet word, laat dit my wonder hoeveel van ons ken nog al die padtekens.

Nog iets wat hoog op die agenda is en wat ernstig na gekyk gaan word is die vervoer van mense agter op ‘n oop bakkie.

Soos ek verstaan gaan dit dalk verminder word na slegs vyf mense en geen kinders mag op daardie manier vervoer word nie.

Dit sal vir my ‘n aanvaarbare wet wees, aangesien my dogter, op 19-jarige ouderdom, oorlede is nadat sy agter op ‘n oop bakkie vervoer is en die bestuurder omtrent 180km/h gejaag het en beheer verloor het oor die voertuig nadat hy ‘n bus op ‘n wit streep probeer verbysteek het.

Die her-evaluering van bestuurderslisensies klink wel goed, maar mens wonder hoeveel bestuurders sal die toets slaag tydens die hernuwing van hul lisensie.

‘n Wet wat ek dink al die motoriste sal verwelkom is dat voertuie bo 9 000kg BVM verbied sal word om op openbare paaie te reis gedurende spitstye.

Dink net, geen meer verkeersopeenhopings nie en geen ‘stationary trucks’ op die snelweg nie.

Dit klink vir my ons het iets om na uit te sien.

Exit mobile version