BlogsOpinion

Reik uit na ander in nood

Dit is merkwaardig hoe vinnig die jaar verby gevlieg het en Kersfees is net om die draai.

Liefdadigheidsorganisasies en die publiek het genoeg tyd gehad om hul jaarlikse beplanning in orde te kry.

Dié soort van dinge verg tyd en tyd wag vir niemand nie.

Kyk net waar staan ons nou, op die drumpel van die einde van 2016.

Kom ons noem dit sommer die lawwe seisoen, oral woel dit, besighede hou hul jaareindfunksies, terwyl mense nie kan wag vir die vakansie om aan te breek nie.

Die jaar se harde werk en stres wat dit meebring maak dat ons wil vlug na die rustigheid van die see, vakansie oorde of die bosveld.

Maar dan is daar die arm families en kinders wat nie so bevoorreg is om daardie vakansiebeplanning of opgewondenheid mee te maak nie.

Hierdie mense is afhanklik van nie-winsgewende organisasies of besighede om hulle Kersfees of vakansie vir hulle moontlik te maak.

’n Vakansie beteken nie noodwendig vir hulle ’n gelukkige wegbreek nie, maar liewer ’n kospakkie wat hopelik aan hul gesin genoeg kos sal verskaf vir Desember totdat die normale weeklikse of maandelikse kospakkie aflewerings weer gaan plaasvind.

Terwyl die ander mense wat tuisbly hulself in gereedheid bring vir die feesseisoen, verg dit ook geweldige inspanning en beplanning vir hulle.

Daar moet nogsteeds beplan word, dat met die bietjie wat hulle het, hulle op Kersdag vir hul gesin moet kos maak en dit met die skamele sakkie kruideniersware wat hulle einde November of begin Desember ontvang het.

Hoe verduidelik hierdie mense aan hulle kinders dat daar geen geskenke van Vader Kersfees of van die ouers af sal wees nie?

Ons weet nie of kinders die konsep van armoede verstaan nie, maar dit sal hemels wees om ’n glimlag op hul gesigte te sien op Kersdag as daar dalk wel ’n geskenkie iewers onder ’n plant in die huis vir hulle wag.

Kinders wie se ouers wel kan bekostig om hul kinders te bederf met ’n wegbreek of vakansie wie weet waar ookal, het baie om voor dankbaar te wees.

Hulle jaag om inkopies te doen, nie net Kersinkopies nie, maar ook inkopies vir hulle langverdiende vakansie.

Selfs dit verg fyn beplanning.

Alles is elke jaar duurder en dit gaan maar meet en pas, selfs in families wat dit bekostigbaar vind om nog met vakansie te gaan.

Maar dan wonder ek hoe maak ons mensies wat op ’n skamele staatspensioen hierdie seisoen staatmaak? Hoe ontsnap hulle van die stres van meet en pas om te oorleef?

Hulle wat vergete sit in aftree-oorde, wie geen kind of kraai het nie en afhanklik is van die personeel om hul Kersdag vir hul op te helder.

Miskien het dit tyd geword dat ons hand in eie boesem steek en betrokke raak by liefdadigheid of dalk ’n ‘adopt-a-granny’ projek.

Dit mag net iemand se lewe onherroeplik verander hierdie Kerstyd.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button