Vakansiegees nie vir almal beskore nie

Susan van Vuuren van Petersfield skryf:

Terwyl die meeste inwoners met verlof sal wees tydens die Desembervakansie, sal daar altyd diegene wees wat nog met geboë skouers agter ’n rekenaar sit of ander noodsaaklike take sal verrig.

Dink maar aan die nooddienste, hospitale, dokters en verpleegpersoneel.

Selfs dié mense wat moet toesien dat ons van krag en water voorsien word sal nog op hul pos wees.

Dan is daar nog dié wat op bystand is, net ingeval hulle uitgeroep word vir, dalk ’n gebarste waterpyp of kroniese waterlekke, waarvan ons almal tog te deeglik bewus is.

Om nie te praat van die sekuriteitsbeamptes wat besighede en huise moet oppas, die polisie en verkeerspersoneel nie – hulle bly maar aan die gang, altyd op hulle pos, of die publiek hulle dienste waardeer of nie.

Hulle is gereed vir enige klagte of misdaad wat geen tyd of plek vra om plaas te vind nie.

So word die nuus en sosiale media ook aan die gang gehou deur iemand agter die skerms, wat noodsaaklike werk verrig met weinige verering.

Maar die lewe gaan aan en more is nog ’n dag, of dit nou vakansie is of nie.

Dink maar so in jou stil oomblikke, terwyl jy op die plaas, by jou vakansiehuis of by die see sit en ontspan, aan dié wat nogsteeds die fort hou.

Aan die wat nie dieselfde voorregte as jy kan geniet nie, aan die weeskinders en die minder bevoorregtes, sommer aan die eensame senior burgers ook.

Want daar is baie van hulle wat, dit wat jy geniet, net as ’n droom beskou met die hoop dat dit dalk eendag sal waar word.

Exit mobile version