Die helde agter die skerms

Daar is helde wat deur baie erken en vereer word, wat uitblink in een of ander aktiwiteit en wat vir iemand ’n rolmodel is.

Maar dan is daar dié helde waarvan ons nooit hoor nie en wie ons nooit sien nie, dié wat agter die skerms werk om ’n verskil in ander se lewens te maak.

Dit is daardie vrouens wie se mans hulle alleen gelos het met die kinders, sonder enige finansiële ondersteuning of bystand.

Met rekeninge om te betaal en monde om te voed, vrouens wat elke dag omsien na ander se behoeftes en sodoende hul eie behoeftes opsy skuif.

Dan is daar die kinders wat besluit dat hul nie belangstel om te swig voor groepsdruk of enige negatiwiteit wat dalk hulle lewens sal beïnvloed nie, maar eerder ’n luisterende oor bied vir die wat dit nodig het.

Dink maar aan die ouerige dame wat met haar kranige maandelikse pensioengeld aan straatkinders kos en klere voorsien.

Dan is daar die vriendelike tog beskeie mans en vrouens wat donasies gee aan sopkombuise, en gesinne wat kinders in pleegsorg neem.

Almal mense wat nooit die voorblad van ’n koerant of die nuus haal nie.

Daar word gesê as jy die gawe het om te dien, doen dit ordentlik, en hierdie mense doen dit.

Die paramedici is by ongelukstonele hard aan die werk om mense se lewens te red en dan hoor jy nie weer van hulle nadat hulle die pasiënte by die hospitale besorg het nie.

By elke natuurramp is daar helde en heldinne, of dit nou brande is of die onlangse tornado wat Tembisa getref het, daar is altyd mense wat hulp verleen en tog nooit genoem word nie.

Tydens rampe is daar altyd diegene wat skielik komberse, klere, kos en wat nog alles tot hierdie mense se beskikking stel.

Dink maar aan die sewe-maande-oue Caylum Willemse wat ’n lewensnoodsaaklike operasie in Amerika moet ondergaan en al die mense wat bydra tot hierdie fonds.

Weet ons wie dit is?

Nee nie altyd nie, want dit is mense wat gedrewe is tot naasteliefde.

So kan ek die mense van Projek Uitkoms opnoem, The Potters Haven, die Christelike Maatskaplike Raad, Wild Wild Guardians, Hi5Kids Recovery Unit, Jesus Outreach, Thandabantu Community Centre, alle pleegsorg ouers, die maatskaplike werkers van die Department van Sosiale Ontwikkeling en van die Springs en KwaThema Kindersorg Vereniging.

Ons moet ook nie vergeet van die polisiemanne en -vroue wat onverpoos werk om ons veilig te hou en om misdaad te bekamp nie.

Hulle is die mense wat na die donker en gevaarlike plekke gaan waar niemand anders dit sal waag nie.

En dit is presies hier waar jy die helde sal kry, by plekke waar ander dit nie sal waag nie of by plekke waarvan Jan Alleman nie weet nie.

Hierdie is almal mense wat agter die skerms werk en nie bekend wil wees nie, want dit gaan vir hulle om die uitreik na die gemeenskap en veral na kinders en ouer mense wat swaarkry.

Daar word dikwels gesê die een hand moenie weet wat die ander doen nie, en die mense van hierdie bogenoemde organisasies doen presies dit.

Hierdie mense is die helde, gewone mense, wat hulle lewe aflê vir ander, of wat gee sonder om iets terug te verwag.

Dalk is daar nog ’n paar plekke of mense waarvan ons nie eers bewus is nie – onbekende helde wat elkeen van weet, maar wat nooit verering ontvang nie omdat hulle dit doen vir die liefde van die saak.

Hierdie mense is gewone mense net soos ek en jy, maar mense wat ’n passie het om te gee en ’n verskil te maak in ander se lewens.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version