Junior die hanslam

Of dit nou aand of oggend is, Junior soek sy melk.

Junior is ons hanslam, wat darem nou nie totaal en al afhanklik van ons nie, maar vir sy daaglikse kwota melk is hy wel.

Hy kan beswaarlik wag om in die oggend, voor sy mense mamma werk toe gaan, sy bottel melk te kry, en so word die proses herhaal wanneer sy na werk vir hom sy bottel moet gee.

Hy is sowat drie maande gelede gebore van ’n ouerige ooi, die laaste oorlewende ooi van die nege skape wat so paar maande gelede deur ons honde aangeval is.

Sy het stadig maar seker herstel, maar ons was onbewus van die feit dat sy dragtig was.

As gevolg van die skade wat aangerig is aan haar kakebeen tydens die aanval, het sy moeilik gekou en het sy heelwat gewig verloor.

Met die drastiese gewigsverlies was dit nog moeiliker om te sien dat sy dragtig was.

Gewoonlik swel ’n ooi se uier redelik voor die geboorte van haar lam, maar in hierdie geval het dit nie eers gebeur nie.

Ten spyte daarvan dat ons vir haar ekstra kos gegee en in afsondering gehou het sodat sy rustig kon eet sonder dat die ander skape haar wegstoot, het sy baie lank geneem om te herstel.

Met baie liefde en al die aandag, het sy weldra begin beter lyk en selfs gewig begin optel, maar wou maar net nie weer vet word soos die res van haar skaap familie nie.

Groot was ons verbasing toe ons een oggend sien sy het geboorte geskenk aan ’n pragtige lam.

So is Junior gebore, ’n pragtige wit Persie-Dorper kruising van ons eie Ramkat pappa, die enigste ram onder die ooie op die Robertson werf.

Inderdaad ’n trotse mamma wat die eerste paar dae voete gestamp het as ons te naby aan haar lam gekom het.

Maar, ongelukkig was die trots van korte duur.

Sy het soms heeltemal vergeet dat sy ’n mamma is en het weggedwaal sonder om vir Junior te roep.

Dié het benoud na sy ma geroep, maar sy mamma het nooit terug geantwoord nie.

Gelukkig het sy hom darem nie verstoor as hy wou drink nie.

Die skok van die honde aanval en die geboorte, vermoed ons, het ’n geweldige invloed op haar gesondheid gehad en sy het een oggend net nie weer wakker geword nie.

Die noodsaaklike lewensbron van biesmelk, wat enige pasgebore dier nodig het, is afgesny.

Salig onbewus van die tragedie wat hom afgespeel het, staan Junior rustig aan ’n lusern takkie en kou.

So word Junior gedoop en aangeneem deur sy nuwe mense familie.

Soos die noodlot dit wou hê, het hy vroeër as sy mede lammers begin eet, wat natuurlik die taak van sy mense mamma vergemaklik het.

Hy is kostelik verby en ek herken sy spesiale mê tussen al die ander lammers, net soos enige gesoute ma sal weet.

Ewe kordaat sal hy teen my stamp wanneer ek te lank neem om tot ruste te kom met sy bottel melk.

Hy is net ’n plesier en letterlik so mak soos ’n lammetjie.

Exit mobile version