Hoe sien die wêreld jou?

Hoe die wêreld na jou kyk of hul siening oor jou is deels die persepsie van wanorde, onwaarhede en selfs onaangenaam.

Kyk nou byvoorbeeld na die jongmense, nie net dié van vandag nie, daar is groepsdruk wat hul persoonlikhede totaal en al verander.

Alhoewel dit dalk meer met aanvaarding te doen het, is dit tog belangrik vir ’n tiener om te weet hulle is aanvaarbaar vir die wêreld.

Selfs grootmense is geneig om te verander net om sosiaal aanvaarbaar te wees, en ruk soms hand uit.

Die wêreld het nie noodwendig die regte siening oor die mensdom nie, dit is ook nie regtig sosiaal aanvaarbaar om te wees wie jy nie eintlik is of wil wees nie.

Miskien is jy iemand wat teruggetrokke is, wat hou van lees, ’n introvert, of dalk iemand wat nie van ’n groot vriendegroep hou nie, maar verkies om een bestie te hê.

Of is jy die partytjie tipe, die sosiale vlinder wie se naam op elkeen se lippe is of selfs die hunk van die skool wat dalk gewild is onder die meisies, maar van wie almal agter sy rug praat?

Kyk maar hoe die wêreld na ’n predikant se kinders kyk.

’n Geringe misstap van die normale pastorie-kinders en die tonge is los en sosiale media gons.

Die arme kinders is doodgewone normale kinders, maar in die oë van die wêreld is hulle anders en durf hulle nie fouteer nie.

Hulle word amper as heilig beskou en die wêreld wag soos ’n brullende leeu op elke misstap.

Is jy beroemd, word jy deur die media uitmekaar geskeur, alhoewel jy die keuse gemaak het om “publieke eiendom” te word en so dus jou reg tot privaatheid verbeur het.

Dit is amper soos ’n wêreldse brandmerk en dit word ’n meulsteun om mens se nek wat moeilik is om te verwyder.

Solank elke misstap die wêreld se tonge aan die praat hou is alles in orde.

Maar wie is die wêreld nou eintlik?

Dit is ek en jy – die hulle waarvan almal praat.

Hulle sê sus of so of hulle glo dit is die regte ding om te doen.

Hulle sê alles in teenstryd met die waarheid, alles wat sosiaal aanvaarbaar is, is vir hulle reg.

So word die mensdom mislei, want ons het mos elkeen ’n natuurlike ingeboude gewete gekry wat op elke reaksie reageer.

’n Gewete wat ons of ignoreer of ag op slaan, en ook soms totaal en al ignoreer.

Daardie gewete wat ons so saggies herinner aan dit wat ons verkeerd doen.

Ai hoe lief is ons nie om daardie innerlike stemmetjie te ignoreer nie, dieselfde stem wat ons veral in twyfelagtige omstandighede ’n duidelike waarskuwing stuur.

Alles wat sosiaal aanvaarbaar is in die moderne lewe verwurg daardie gewete.

Dit wurg hom totdat daar geen gryntjie van hom oor is nie – dan dink ons dit is koel en niemand gee tog om nie.

Bekende woorde soos, “as jy vir my lief is sal jy” waarvoor soveel jongmense swig, net omdat dit vir die wêreld aanvaarbaar is.

Eerlikwaar, dit is nie liefde nie, want liefde is nie ’n gevoel of ’n emosie nie, dit gaan om wedersydse respek en vertroue en meer as net ’n gevoel.

As hulle dan soveel omgee, hoekom is daar soveel gebrokenheid, soveel kinders sonder ouers wat in pleegsorg en kinderhuise is?

Die teendeel is ook waar, daar is ouers, vriende, familie, kollegas, te veel om op te noem, ja hulle gee werklik om.

Dit verg soms net ’n stewige handdruk, ’n vriendelike groet of ’n glimlag, nie deur die oë van die wêreld nie, maar van mense om jou wat omgee en met diepe deernis in hul oë na jou kyk.

Exit mobile version