Springs inwoners skitter in hul afwesigheid

Daagliks word daar oor en weer gekla dat daar absoluut niks aangaan in Springs nie, of 'Springs is dood'.

Nou wonder ek, as Springs so dood is, hoekom was daar net 425 mense wat die Juanita du Plessis vertoning by die burgersentrum bygewoon het?

Die Addie het op 16 Mei 100 jaar oud geword, en vir dié wat nie weet nie, is daar weekliks ’n What’s On kolom in die koerant.

Dis reg mense, in dié kolom word verskeie naweek aktiwiteite gepubliseer.

Juanita se vertoning is deeglik oor berig in die koerant sowel as ons webtuiste, en nog steeds het Springs inwoners geskitter in hul afwesigheid.

Nadat Juanita die verhoog betree het, vra sy ewe kordaat waar is die res van Springs terwyl die organiseerders hul koppe in skaamte laat sak.

Dit het gevoel of sy die organiseerders se skaamte raakgesien het, want sy het onmiddellik haar vraag met hierdie stelling opgevolg: “Hulle sit tuis voor die kaggel met ’n glasie rooiwyn”.

Ai jai jai, dit is so hartseer.

Eienaardig genoeg, Saterdag het ’n plaaslike motorfietsklub ’n ‘day jol’ gereël waar daar meer as genoeg mense was.

Dié mense, hetsy motorfietsryers of gewone besoekers, het dié geleentheid en die koue nat weer trotseer.

Motorfietsryers het van heinde en verre gekom om na die bands te kom luister terwyl Jan Publiek die stalletjies kon besoek.

Dus kan die koue en reënweer nie as verskoning gebruik word om nie die Juanita-vertoning by te woon nie.

Almal wat die vertoning bygewoon het, het van pure genot saamgesing en hande geklap.

Daar was selfs ’n paartjie of twee wat in die gang tussen die stoele gedans het.

Nou ja, Springs inwoners, nog ’n gulde geleentheid het deur julle vingers geglip, maar kom ons hoop dat Juanita se volgende besoek meer aanhangers sal lok.

Soveel geleenthede en so min mense wat dit bywoon, is regtig ’n hartseer situasie.

Hoeveel geleenthede word daar aangebied in Springs en tog vlug die inwoners nog steeds na ander stede vir vermaak?

Springs het miskien nie sulke groot inkopiesentrums of flieks nie, maar daar is tog basaars, ’n damestee en ander familie feestelikhede wat bygewoon kan word.

Nog ’n voorbeeld is die Lady Gracious damestee wat onlangs plaasgevind het.

Dit is een van ons eie inwoners wat ingeskryf het vir hierdie besondere titel.

Dit is nie ’n skoonheidskompetisie nie, maar wel ’n titel wat dié inwoner wil gebruik om haar medemens te dien.

Maar tog was daar soveel leë stoele, dat dié wat wel die geleentheid bygewoon het, skaam-skaam verskoning moes maak vir die res van die Springs inwoners wat nie belanggestel het om die dame te ondersteun nie.

Nou wonder ek net, as ons nie eers ons eie mense kan ondersteun nie, wat bly oor?

So lê die Fonteinefees, die Afrisaamfees sowel as ons eie Wheels and Wings funksies voor, drie funksies wat spesiaal vir die gemeenskap gereël word.

Funksies wat welbekende sangers na Springs lok, wat sorg vir groot vermaak vir oud en jonk, waar die gemeenskap en kerke betrokke raak.

Alles word gereël met net een doel voor oë, om die inwoners ’n geleentheid te bied om op eie bodem vermaak te word en plaaslike uitstallers te ondersteun.

Die vraag is net, gaan die inwoners ’n daadwerklike poging aanwend om dié drie funksies by te woon?

Komaan mense, in plaas van om na vermaak by ander stede te gaan soek, probeer ten minste eers uitvind wat gaan aan in jou eie dorp.

Exit mobile version