Bestaan ‘gentlemen’ nog?

Bestaan ware here ‘gentlemen’ nog, of nie?

Om hierdie vraag te beantwoord moet ons eers probeer vasstel wat die term beteken en waarvoor dit staan.

Die term ‘gentleman’ is die eerste keer in 1413 gebruik soos George Sitwell verduidelik:

“Volgens die openbare rekords ontmoet ons die landbouer en soms ‘gentleman’, maar dit het ontstaan lank voor die gier om jouself ‘n ‘gentleman’ te noem. Om ‘n ‘gentleman’ te wees moet jy gebore word in ‘n sekere klas.”

Ons voorouers het geglo dat ‘n ware heer of ‘gentleman’ nog respek het vir ‘n vrou in alle opsigte.

Hul maak die deur oop, staan hul sitplek af aan ‘n dame, staan terug dat ‘n dame voor hulle by ‘n deur ingaan, betaal vir die ete by ‘n restaurant, sorg, ten alle tye, dat hulle respektabel aangetrek is en gebruik ook nie kru taal voor ‘n dame nie.

Dit is maar ‘n paar dinge waaraan ‘n ware heer destyds gemeet is.

Die vraag bly staan, is daar nog ‘n man wat soos ‘n ware heer optree, ten alle tye?

Miskien word hy weggesteek, het hy ‘n nuwe gesig, of dalk is hy nog daar en wag vir sy oomblik om sy heerskap te bewys.

‘n Ware heer word nie herken agter ‘name brand’ klere of logos nie.

Hy bly op die agtergrond en is nie voorbarig nie.

Hy leer goeie maniere aan, is beleefd en bly altyd, altyd nederig.

Dus begin sy reis as ‘n seun.

Natuurlik leer hy om ‘n ware heer te wees deur sy ouers se optrede en opvoeding.

Iewers in sy kinderhart is daar ‘n geweldige begeerte om met die vegtersgees van ‘n draak die prinses van sy drome te red.

Hy word gekoester deur ‘n vasberade heer wat hom touwys maak.

Die regte etiket, goeie maniere en elegansie.

Kru taal en ongeoorloofde maniere hoort net nie by ‘n ware heer nie,

Daar is ‘n gesegde ‘Voor jy trou, kyk hoe behandel die man sy ma’.

Ouers is so geneig om die samelewing die skuld te gee, die land met sy probleme, die president of wanorde tussen die politieke partye.

Maar kinders se opvoeding begin by die ouers, dit is ons voorreg om ons kinders te lei, in alle opsigte, hetsy dit goeie maniere, taalgebruik, respek vir ‘n dame of dissipline is.

Om ‘n gentleman te beskryf is maklik, maar om hom te identifiseer is nie so maklik nie, altans nie in vandag se lewe nie.

Dit laat mens dink, doen dit nie?

Exit mobile version