Onnodige dood van diere

Die hoeveelheid diere wat doodgery word is vir my net te veel.

Gereeld oppad werk toe en terug vind ek dooie katte of honde wie se karkasse in die pad lê.

Hoekom hou mense nie hul diere agter geslote hekke of hoë mure nie is wat ek wonder.

Alhoewel katte nie beperk is tot hoë mure nie, ruk dit nogsteeds aan my binneste elke keer as daar ‘n omgeryde kat in die pad lê.

Die rede dat mens nie stop vir ‘n dier wat oor die pad hardloop nie, is voor die hand liggend, omdat dit gevaarlik is.

Alhoewel ek nog nooit ‘n dier doodgery het nie, was dit al baie naby, maar dit is vir my beter om uit te swaai of om te probeer remme aanslaan.

Afhangende seker van die spoed wat ons ry, is dit nie moontlik om uit te swaai nie, maar as ons by die spoed beperking bly word dit dalk moontlik.

Sou jy as motoris stop indien jy ‘n hond of kat raakry of beseer?

Wonder maar net hoeveel van ons werklik genoeg omgee om dan te stop en die beseerde dier te probeer help.

Wat erg is, is dat wanneer ‘n hond of kat doodgery word, die karkas net daar gelos word en geen haan kraai weer daarna nie.

Die Ekurhuleni Metro is glo verantwoordelik om die karkasse van diere te verwyder, maar ek wonder hoeveel mense gee genoeg om om dit aan hulle te rapporteer?

So aanskou ons motor na motor wat oor die karkas ry totdat dit net ‘n plat kol op die pad is.

Ek self is ‘n eienaar van vyf honde en vele ander diere, en aangesien ek ‘n ‘plot bewoner’ is, is dit baie belangrik om te sorg dat my diere of enige ander dier, op hul eienaar se erf sal bly en nie in die strate ronddwaal nie.

Eienaars van diere moet eintlik oplet wanneer hulle die perseel verlaat of die diere nie ongemerk uitgeglip het nie.

Diere is ook maar nuuskierig en wil weet of die gras nie dalk groener aan die ander kant van die heining is nie.

Maar met ‘n ferm hand en stem kan mens hulle beheer en leer om nie uit die erf te gaan nie.

Dit is nou natuurlik as die honde mammas en pappas genoeg omgee vir hulle diere en die moeite sal doen om die troeteldiere te dissiplineer.

Sterkte aan die dierebeskermingsvereniging (DBV) wat gedurig met beseerde of rondloper diere opgeskeep moet sit.

Exit mobile version