BlogsOpinion

So loop die beeste

Die wêreld is die laaste tyd omtrent omgekeer met al die hartseer gebeure.

As dit nie onluste, moord of verkragting is nie, is dit ontevrede inwoners wat alles verniel wat opgebou is.

Sommige mense betuig hul meegevoel en simpatiseer as hulle daarvan hoor, maar vergeet vinnig weer daarvan omdat dit nie hul lewens raak nie.

Almal leef in hul gemaksone en hou nie daarvan as dinge verkeerd gaan nie.

Stel jou voor dat jy, al leef ons deesdae agter hoë mure met sekuriteit, in ‘n sinkhuisie moet oornag wat nie eers behoorlik kan sluit nie. Sommige sal die gedagte weglag en sê dit is nie hulle probleem nie. Maar die wrede werklikheid is, dat dit dalk een van jou kollegas by die werk is wat tussen onwettige myners wat onder mekaar losbrand met vuurwapens, moet slaap.

Is dit dalk juis hoekom hierdie inwoners oproerig raak, want hulle familie en vriende word ook vermoor en hulle voel niemand luister na hulle nie?

Dit is moeilik om te verstaan waarom as hulle ontevrede is met diens of die misdaadsyfer, inwoners eiendom wat nie aan hulle behoort nie, beskadig. Hierdie onderwerp is altyd hoog op die agenda by braaivleisaande, maar dit is presies waar dit bly.

Wanneer die skielike vraag hom voordien oor wat ons kan doen om die situasie te verander, val daar ‘n skielike stilte.

Die rede is voor die handliggend – Jan Alleman weet nie regtig wat om daaraan te doen nie, behalwe om te kla.

Onlangs was dit die inwoners van die Gugulethu en Everest informele nedersettings wat die paaie versper het met klippe en bande aan die brand gesteek het tydens ‘n oproer.

Die uiteindelike klagte was teen die voortdurende moord, misdaad en verkragting in hul omgewing.

Tydens die aangeleentheid kla ons wat nie weet hoe dit voel om in sulke omstandighede te lewe nie, net omdat ons nou langer werk toe moet ry as gevolg van die pad wat versper is.

Ons gemaksone word omver gewerp en dit hou Jan Alleman niks van nie.

Stel jou voor jou kollega daag nie op vir werk nie, juis omdat hulle deel van die misdaad statistiek geword het.

Sal Jan Alleman dan verstaan juis omdat ons gemaksone weereens omver gewerp is of sal hy dan betrokke raak en probeer om ‘n verskil te maak in die samelewing?

Soos ons Noord Kaapse vriende altyd sê ‘so loop die beeste’ want dis mos nie dinge waarby ons juis betrokke wil raak nie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button