BlogsOpinion

Kleur gee nuwe lewe

Die vaal kleure van winter is vinnig besig om plek-plek in pienk, wit en groen te verkleur.

Dit is die kleure wat hierdie tyd van die jaar ’n nuwe seisoen aankondig.

Kaal bome begin hul wintersjas uittrek en die nuwe baadjie van groenigheid en kleur aan te trek.

Rye pienk vrugtebome en selfs die enkele boom in ’n tuin, versier tans elke tuin en straat.

Roosbome begin bot en die Clivias en Amarilla bolle stoot pragtige kleurvolle blomme uit na ’n winter rustydperk.

Vaal en gebrande gras begin plek maak vir ’n groen tapyt.

Alles tekens van ’n nuwe en kleurvolle bestaan.

Nadat elke bloeisel verander het in ’n vrug, kom die groen blare na vore en voor ons, ons oë uitvee is die kaal en vaalheid vervang met vrugte, kleur en prag.

Kyk maar na ’n wilgerboom, dié gee sowaar ’n sug van verligting wanneer sy kaal latte skielik versier word met nuwe groen blare.

Die ‘weeping’ maak plek vir ’n meester van pragtige groen latte wat skud bied vir mens en dier.

Só dra die mens ook sy eie kleur in die lente.

Sommiges dra vrugte en deel dit uit, terwyl ander skadu aanbied vir dié wat rusplek soek.

So kleurvol is die skepping, nie net in plante of bome nie, maar ook in die mens.

Dit is my wens dat elkeen, ongeag hul omstandighede, ook die lente kleur- en stylvol binne sal gaan, dat kleur ook ’n verandering in elkeen se lewe sal bring.

Maak ’n verskil in ander se lewens, sodat kleur ook vir hulle lewe kan gee.

’n Glimlag hier, ’n drukkie daar, selfs ’n vriendelike groet, kan weer kleur in iemand se lewe bring.

Miskien is lente nogsteeds ’n vaal tydperk in jou lewe.

Miskien staan jy by die oop graf van ’n geliefde, of het jy jou werk verloor deur afbetaling as gevolg van vermindering van personeel.

Eensaamheid kan die rede wees vir die afwesigheid van kleur in jou lewe, dalk het iemand jou te na gekom of voel jy die lewe het al genoeg dwarslappe in jou rigting gewaai.

Wat ookal die omstandighede, dit is belangrik dat elkeen van ons sal onthou elke seisoen kom en gaan, ten spyte van buite omstandighede.

’n Vriendelike gebaar bring glimlagte terug waar daar al diep plooie van bekommernis gevorm is.

Bome bot en plante blom om ’n nuwe seisoen aan te kondig, maar liefde en omgee, ’n warm glimlag en ’n vriendelike gebaar, is genoeg om kleur in elkeen se lewe te bring, ongeag die omstandighede.

Dit is wat kleur aan die lewe doen.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button