BlogsOpinion

Meegevoel sonder woorde

Die afgelope tyd was daar soveel tragedies op ons dorp.

Nie net die dood van ‘n vier-maande oue baba nie, maar klein kindertjies wat hul pa verloor het.

Dit maak geen verskil wie dit is wat doodgaan nie, die verlies en hartseer is iets waarvoor geeneen van ons voorberei word nie.

Maar wanneer ons aan die dood van ‘n kind dink, dan word ons kwaad.

Nie net vir die Here nie, maar vir almal wat dalk ‘n aandeel daarin gehad het.

Natuurlik is dit ‘n reaksie van een van die sogenoemde vyf stappe van rou – die woede.

Maar wanneer ons moet leer om sonder antwoorde aan te gaan, word ons harte verhard so tussen die hartseer deur.

Die omstandighede rondom ons kinders se dood kan nie instaan vir die seer wat die ouers beleef nie.

Die stappe van rou waarvan hulle praat word nie noodwendig deur almal ervaar nie.

Wat ek wel weet is dat dit gepaardgaan met ‘n diep, onbeskryflike hartseer.

Om aan te beweeg sonder herinneringe van dit wat kon wees is nie altyd maklik nie.

Vir die wat wonder of ek weet of verstaan, ek weet nie en ek verstaan ook nie altyd nie.

Wat ek wel weet is dat toe my dogter oorlede is, is daar ‘n deel van my hart uitgeruk, ‘n deel wat sukkel om te genees.

As gevolg van my werk het ek die afgelope tyd soveel mense ontmoet wat kinders aan die dood afgestaan het.

Elkeen van ons se kinders is op verskeie maniere dood, maar elkeen se pyn en verlange bly dieselfde.

Om staande te bly, die wêreld in die gesig te staar en tree vir tree aan te beweeg is nie altyd maklik nie.

Die lewe gaan aan, maar vir ons wat rou staan die lewe soms doodstil.

Vir ‘n vlietende oomblik, terwyl ek klein Boetietjie se begrafnis bywoon, sien ek my dogter se gesig en ek wonder of sy weet hoe ek haar mis.

Tyd genees, sê sommige, maar tyd het ook tyd nodig, want genesing vind nie oornag plaas nie.

My een vriendin se enigste kind en dogter is dood; sy sukkel elke dag en voel die lewe is nie meer die moeite werd nie.

‘n Ander vriendin se seun is dood; sy klou vas aan die Here wat haar elke dag dra en dit hou haar aan die gang.

Nog iemand, wie se dogter onlangs oorlede is, weet nie hoe sy elke dag sonder haar dogter kan leef nie.

My wens is dat almal wat weet en verstaan hul eie manier sal vind om te rou en vrede te vind.

Hou vas aan die herinneringe en weet daar is iemand wat saam treur.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button