BlogsEditor's noteOpinion

Van lint tikmasjien tot tablet

Tegnologie vorder vinnig en bied omtrent elke dag nuwe uitdagings.

Maar vir my het dit te vinnig gebeur en ek moes vinnig leer Vader Tyd wag vir niemand nie.

Die internet, webtuistes, “facebook” en twitter het ‘n integrale deel van ons daaglikse bestaan geword.

Van die ouer garde sal met my saamstem dat dit na Grieks klink as mens van “tweet” of toeter, vir die suiwer van taal, praat.

Nou leer ons op ons oudag van die internet en sy vele fasette.

Dit voel soos net die ander dag wat ons op skool getik het op die ou lint tikmasjiene.

Wonder wie kan dit nog onthou, die swart en rooi lint met die ronde genommerde sleutels.

Behoede jou as jy ‘n fout gemaak het, want jy moes van vooraf weer begin.

Daar was geen outo-korreksie, “spell check” of “backspace” om gou die verkeerde letter te korrigeer nie.

Ons is geleer om die vier vingers aan die linkerhand op die a, s, d en f sleutels te plaas en die regterhand se vingers op die komma-punt (;), l, k en j.

Die duime het die spasiebalk beheer en die pinkies het die res van die werk gedoen, so is dit dan nou vandag ook nog my gewoonte.

Alle tiksters van ouds sal met my saamstem.

Menige kere is ek letterlik oor die vingers getik (met ‘n liniaal) vir foute wat gemaak is.

Die goeie ou dae, sou ek sê.

Maar die elektroniese tikmasjiene het gou gevolg en ons het gedink ons is tog te oulik.

Kort voor lank het tegnologie nog ‘n tree gegee en daar is ‘n klein rekenaarskerm bygevoeg waarop jy kon sien wat jy tik.

Dit het my laat besluit om my tik diploma te doen terwyl ek as ontvangsdame en tikster by ‘n firma gewerk het waar hierdie fantastiese tikmasjien tot my beskikking was.

Met die nuwe tikmasjien daag ek op vir die finale eksamen en hier sit die jong studente met hul gewone elektroniese tikmasjiene en gaap my “state-of-the-art” tikmasjien aan met verlange.

Dit is te lank gelede om te onthou hoe lank ek op die masjien getik het voordat die woordverwerker die plek van die tikmasjien op my lessenaar ingeneem het.

Mense kind, dit was vreemd om op twee plekke te kyk terwyl jy tik, maar dit het nie lank geneem om dit te bemeester nie.

Nie dat ek dink ek was so oulik nie, want die kursusse vir die gedoente het my baie gehelp.

Die groen skerm was ‘n seer vir elke oog, maar skielik kan jy jou foute regmaak met die druk van ‘n knoppie.

Waar is die dae wat jy in duplikaat met klad papier tussen die twee bladsye moes tik, het ek gewonder.

Die van ons wat behoorlik geleer het hoe om te tik, sal vir jou kan sê dat jy gou besef het wat die woord geduld beteken.

En nog is het einde niet, want iewers het die tegnologiese slimkoppe nog iets beters uitegedink.

Die woordverwerker is verruil vir ‘n rekenaar.

Nog beter, het ek gedink, want skielik is daar soveel meer dinge wat jy kan doen behalwe net tik.

Natuurlik het die tegnologie sedertdien so verbeter dat ons nou kan Google as ons iets wil uitvind.

Met die druk van ‘n knoppie kan jy baie dinge leer en uitvind.

Die jong klomp herinner my gedurig daaraan “if all else fails, Google”.

Nou tik ons verwoed op die webtuiste, ons “facebook” en toeter dat dit bars.

Soms vergeet ek van die getoetery, maar die dierbare mense wat saam my werk is baie geduldig met my.

Nou het ons ‘n tablet wat soos ‘n tweede handsak geword het wat ons taak vergemaklik.

Vreemd maar waar dat ek verlang na die dae van die lint tikmasjien en die vrye tyd wat ons tussen al die gejaag van tablet en toeter en al die ander tegnologie geniet het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button